HEIDELBERG NUUS - Diewe wat nege koeke by 'n koffiewinkel/restaurant gesteel het, is gou weens die polisie se flink optrede vasgetrek.
"Die vermeende diewe het Donderdag31 Oktober tussen middernag en 02:00 by ons winkel ingebreek," het Corrie Solomons, die eienaar gesê.
Die verdagtes het vermoedelik toegang tot die winkel gekry deur 'n klein venstertjie waar hulle ingeklouter het om die groot venster van binne oop te maak.
"Buiten die koeke het hulle ook 'n skootrekenaar, die kasregister en 'n geldkissie wat onder die toonbank was, gesteel."
Die rekenaar en oopgebreekte, leë kasregister en geldkassie is teruggevind, maar die verdagtes het steeds met goedere en kontant ter waarde van sowat
R5 000 weggekom.
"Gewoonlik sluit ons so teen agtuuur oop, maar omdat ons groot bestellings gehad het, was ons Donderdagoggend reeds 06:00 by die winkel. Dit was bevestigingsnaweek en 'n klomp koeke is bestel."
Onder die koeke was vanielje-, marmer- en sjokoladekoeke. "Ons was geskok om te sien die koeke wat ons spesiaal vir 'n groot bestelling gebak het, is skoonveld. Ek moes nog bak om die bestelling te kon lewer."
Die koeke, wat op polistereenborde en onder plastiekdeksels was, is blykbaar in 'n groot pienk sak verpak waarmee die vermeende diewe weggekom het.
"Een van die verdagtes is dieselfde middag aangekeer. Ons wil die polisie, en veral vir sers. Whitey Solomon bedank vir die flink optrede wat gehelp het om die verdagtes so gou vas te trek."
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'