STILBAAINUUS - Die algemene jaarvergadering van die dorp se Belangeforum het op Donderdag 20 Februarie plaasgevind.
Volgens voorsitter Gustav Radloff was twee sake veral van belang, naamlik die werksaamhede van die Stilbaai-ontwikkelingskomitee, asook die hantering van vullis en stortingsterreine.
Die Stilbaai-ontwikkelingskomitee is op 30 Oktober verlede jaar ingestel om aanbevelings aan die munisipale raad met betrekking tot munisipale eiendom in die dorp te maak.
Die komitee het geen besluitnemings-bevoegdheid nie. Voorbeelde van sulke eiendomme is die grond langs die parkeerterrein by die hoofstrand in Stilbaai-Oos, die munisipale grond wat aan die hawe grens, Julie se Baai, die grond in die omgewing van Die Lapskuit en die ongeveer 65 ha oorkant die munisipale kantore wat al langs Hoofweg-Wes vanaf die Jongensfonteinpad tot by die gholfbaan strek.
Al die belangrikste gemeenskaps-organisasies is op die komitee verteen-woordig. Vergaderings word op versoek van die munisipaliteit gehou en funksioneer onder voorsitterskap van die munisipaliteit. Radloff benadruk dat alle besluite van dié komitee altyd aan 'n openbare deelnameproses onderworpe sal wees.
Die tweede belangrike punt was die stortingsterrein by Melkhoutfontein en vullisverwydering. Inwoners en sakelui word versoek om herwinbare afval soos plastiek, glas, karton/papier en metaal van bederfbare afval te skei.
Aangesien die lewensduur van alle stortingsterreine in Hessequa beperk is, is herwinning noodsaaklik om dié afval soveel as moontlik te verminder.
Die Melkhoutfontein-stortingsterrein mag slegs vir tuinafval en bourommel gebruik word. Indien die publiek saamwerk en by hierdie reëling hou, kan die lewensduur van dié terrein aansienlik verleng word omdat kompos van tuinafval gemaak word, terwyl bourommel ook verwerk word.
Elektroniese afval soos batterye en gloeilampe kan voortaan by die munisipale store in Sterretjielaan afgelaai word.
Die onwettige storting van visafval in die hawegebied wat tans 'n probleem is, sal volgens Radloff ook dringend aandag geniet.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'