Update
MELKHOUTFONTEIN NUUS - 'n Oudonderwyser, Analien Boshoff, het net meer as 'n jaar en 'n half gelede 'Die Kleuterklassie' vir kinders van vier en vyf jaar in die stoorkamer van die St. Augustine's Kerk in dié dorpie begin.
Dit is Boshoff se passie om dié kinders 'n kans te gee om hul skoolloopbaan op gelyke vlak te kan begin en sy put vreugde daaruit om die deure van die stoorkamer, nou 'n netjiese klaskamertjie, daagliks oop te maak en die kindertjies daar te verwelkom.
Die eerste pre-graad R-kinders het reeds na graad R in dié dorp se laerskool opgeskuif. Vanjaar is daar weer ses leerders in dié klassie wat tot 12:15 hier skoolgaan. Hulle ontvang onderrig vanaf 'n goedgekeurde leerplan wat alle fasette van opleiding aanraak en 'n tema word weekliks behandel. Die leerplan sluit in syfervaardigheid, lewensoriëntering, perseptuele ontwikkeling en geletterdheid.
Die kinders se fisiese aktiwiteite sluit 'n verskeidenheid speletjies in, met juffrou Analien wat natuurlik ook moet saamspeel. Gereelde besoeke aan die dorp se speelparkie is 'n gewilde aktiwiteit en hoewel die kinders dalk dink hulle speel net, vorm dit 'n belangrike deel van hul motoriese oefeninge. Hulle doen ook kuns en leer selfs om te bak en brou.
Dit is vir die kinders 'n hoogtepunt om op uitstappies te gaan en hulle het vanjaar die Botterkloof-oord buite Stilbaai besoek, waar die damme met eende die kleuters groot vreugde verskaf het. Boshoff maak 'n punt daarvan om die kinders na die see te vat, waar hulle veral die seelewe in die rotspoele by Morris Punt uiters interessant vind.
Die klassie het ook die bejaardes by Huis Soeterus besoek, terwyl 'n kuiertjie van die brandweer 'n onvergeetlike ervaring was. Dit het al 'n instelling geword dat Stilbaai se kranige jong gholfspeler, Misha Loots (14), die klassie elke Vrydag besoek en die voorskoolse kinders leer gholf speel.
Aan die einde van elke kwartaal word 'n ouerdag aangebied, waartydens die kinders se rapporte afgehaal word en aan die einde van die jaar ontvang die kinders hul sertifikate tydens 'n gradeplegtigheid. Die ouers neem dan 'n lywige lêer in ontvangs, wat die kleuters se werkstukke deur die jaar bevat.
'Die Kleuterklassie' is nie 'n geregistreerde kleuterskool nie en is 'n nie-winsgewende organisasie (NPO) wat ook as 'n Public Benefit Organisation (PBO) oor 'n Afdeling 18A-sertifikaat beskik. Dit beteken dat op donasies en die gemeenskap se goedgunstigheid staat gemaak word om die projek volhoubaar te maak.
Boshoff nooi enigeen uit om hulle te besoek. Belangstellendes wat betrokke wil raak of meer inligting verlang, kan haar by 083 549 5288 kontak.
Lees 'n vorige artikel: Kleuters se opvoeding haar passie
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'