HESSEQUA NUUS - Suid-Kaap Forum het met die eienaars van klein besighede in die streek gesels om te hoor hoe dit gaan en watter planne hulle maak om na die inperkingstyd weer aan die gang te kom.
Kotie Niemand en haar dogter, Elise Joubert, bedryf al meer as 13 jaar 'n winkel in Kerkstraat, Riversdal.
"Dit gaan beroerd. Die winkel is ons enigste bron van inkomste," sê Joubert. "As die inperking verder verleng word, gaan ons 'n hengse probleem hê. Ek weet nie hoe lank ons kan uithou nie." Volgens haar bak hulle gewoonlik lekkernye by die winkel, maar al sou hulle by die huis kon bak, mag hulle nie aflewer nie.
Karen en Niel Swart bedryf 'n dekorwinkel op die dorp. "Ons het 'n werkswinkel waar ons op ons eie kan voortgaan om gordyne en ander produkte klaar te maak, maar ons materiaal raak op. Ons grootste bekommernis wanneer ons oopmaak is hoe die publiek op nabye kontak gaan reageer. Sal hulle die vrymoedigheid hê om by die winkel in te stap? Sal hulle ons in hul huise toelaat om mates te neem?"
Mariëtte van Wyk, bestuurder van 'n skoenwinkel wat al meer as 35 jaar bestaan: "Ons kon al twee weke voor die inperking agterkom minder voete kom die winkel binne. Ek vermoed mense het toe al kos eerder as skoene gekoop. Ons hoop maar die besigheid kan oorleef."
Michael Amos, eienaar van 'n restaurant op Heidelberg is optimisties. "Ek het finansiële hulp by die regering gekry en sien daarna uit om so gou moontlik weer aan die gang te wees. Al gaan ons net terug na die regulasies soos voor die inperking toe ons nog 50 persone in die restaurant kon toelaat."
Marius Jordaan, eienaar van 'n nutsman-onderneming op Albertinia, sê reguit hy sal van voor af moet begin. "Wanneer ons weer oopmaak sal ek geen kapitaal oorhê om produkte mee te koop of iemand te betaal nie. Dit sal baie harde werk en lang ure kos." Jordaan se onderneming was nog net 'n jaar lank in bedryf en hy moes al sy werknemers afbetaal.
Hoewel die eienaars van 'n drankwinkel op Stilbaai nie sulke drastiese stappe hoef te neem nie, sê mede-eienaar Adolf Botes daar is net een manier om plaaslike besighede van ondergang te red: "Koop local wanneer die inperking gelig word. Al betaal jy dalk 'n bietjie meer in jou eie dorp, gaan geld wat plaaslik spandeer word die winkels in jou dorp oophou. Dis ons enigste hoop."
Rachel Wall, voorsitter van Stilbaai-sakekamer sê hulle is vasbeslote om sake-eienaars aan te spoor om grendeltyd nuttig te gebruik.
Annamarie Janse van Rensburg van 'n verfwinkel op Oudtshoorn is nie te bekommerd nie. "Ons het goeie verkope voor die inperking gehad en ons het baie voorraad. Ek betaal nog salarisse en ek sien uit daarna om weer ons deure oop te maak."
Geraldo Paluzzi, eienaar van 'n ontspanningsentrum in George, sê hy weet nie wat die toekoms inhou nie. Hy moes 40 werknemers sonder betaling aflê en het steeds oorhoofse kostes wat betaal moet word. "Ek vermoed ons gaan na die inperkingsmaatreëls opgehef is, nie so baie besoekers soos voorheen ontvang nie - mense gaan besorg wees oor hul gesondheid en hulle gaan dalk nie geld vir sulke uitgawes hê nie."
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'