RIVERSDAL NUUS - Kinders wat meer wil leer oor Jesus het Woensdag 25 Oktober breed geglimlag toe hulle elkeen 'n gratis Bybel, geskenk deur die Bybelgenootskap van SA, ontvang het.
Na die poppekas wat Abundant Life in Augustus opgevoer het, georganiseer deur Loretta du Preez van die Sewendedag Adventiste, het talle kinders belangstelling getoon om in te skryf vir die Dare2Care Bybelstudies.
Laerskool Panorama, Voorwaarts Primêr en Laerskool Volschenk het in totaal 111 leerders wat tans Bybelstudie doen. Onderwysers Mandy Zeelie van Panorama en Albert Nikvah van Voorwaarts gee vir die kinders 'n blaadjie vol vrae wat hulle moet voltooi en weer inhandig sodat hulle 'n nuwe blaadjie kan kry.
Dis hier waar Loretta besef het daar is 'n groot behoefte vir Bybels. Daar en dan het sy aansoek gedoen by die Bybelgenootskap en het elke kind 'n 1983-vertaling van die Bybel ontvang.
Die kinders van Panorama Primêr is baie dankbaar vir die Bybels wat hulle ontvang het.
Sy het begin deur die kinders te vra hoekom hulle Bybelstudie doen, waarna hulle uit een mond geantwoord het, "Om meer oor Jesus te leer."
Dadelik is hulle blootgestel om kosbare beloftes in die Woord te memoriseer. Sy het hulle geleer om vir enige van hul probleme die nommers 333 (Jeremia 33:3) te onthou as hul noodnommer vir Jesus want daarin sê Hy: "Roep na my, Ek sal jou antwoord."
"Daar is baie kinders en selfs volwasse mense wat nie die Bybel ken nie; dis vir my baie hartseer," vertel Loretta. Haar doelwit is om 'n tydgleuf binne skoolure te kry sodat sy afsonderlik met die kinders kan gesels oor die Bybel sodat hulle beter begrip het daarvan. Alle ouderdomme, van 8 tot 88, is welkom om in te skryf vir Dare2Care Bybelstudies.
Kontak Loretta by 082 944 5046 vir meer inligting.
Die kinders van Panorama Primêr is baie dankbaar vir die Bybels wat hulle ontvang het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’