HEIDELBERG NEWS - Die Cape Country Christmas Bands Union het Sondag 1 Maart hul tweede jaarlikse korekompetisie op die plaaslike sportterrein gehou.
Vyf van die sewe kore het van sover as Elsiesrivier, Worcester, Zoar, Suurbraak en Swellendam gekom om mee te ding.
Die plaaslike koor Young Royal Shepherds (YRS) asook Loving Shepherds van Slangrivier was ook daar. Die verrigtinge wat in snikhete temperature plaasgevind het, is goed bygewoon.
Verskeie hooggeplaastes waaronder Tertuis Simmers (LPP en Wes-Kaapse minister van menslike nedersettings), Dennis Joseph LP en sy gade Harriet, James Gelderbloem (wyksraadslid), Lisby Pieterse, rdle. Annemarie Joubert en Jennifer Hartnick asook Grant Riddles, Hessequa uitvoerende burgemeester, was teenwoordig.
Anneline Kistoor (sekretaris) het as seremoniemeester opgetree. Jacobus Sefoor (president) het die aanwesiges hartlik verwelkom en die hoop uitgespreek dat die verrigtinge deur almal geniet sal word. Simmers het kortliks die aanwesiges toegespreek en die kore aangemoedig om dié kultuur voort te sit.
Die koor van Elsiesrivier, Wisemen of the East, het met die louere in die gesogte solo-afdeling met die lied Jesus my Saviour weggestap.
Loving Shepherds moes met die tweede prys in die afdeling tevrede wees, terwyl Crusaders van Worcester derde geëindig het.
Young Royal Shepherds wat seker die gunsteling in die afdeling was, moes met 'n teleurstellende vyfde plek tevrede wees. Hulle het egter in die senior afdeling koning gekraai, terwyl Wisemen of the East as algehele wenners gekroon is. YRS en Crusaders het onderskeidelik tweede en derde geëindig.
In die junior afdeling het Wisemen of the East ook die louere opgeraap met YRS tweede en Crusaders derde. Wisemen of the East se Tiny Tots het ook in dié afdeling koning gekraai.
In die ander baie gewilde afdeling, die groot opmars vir trom-majore en spanne het YRS weereens bo in die senior afdeling klaargemaak. Die gasheerkoor se Tiny Tots het die eerste plek in die span-afdeling opgeraap. Wisemen of the East se juniors en Tiny Tots was die wenners in albei afdelings.
Wisemen of the East, YRS en Crusaders sal die unie op Sondag 29 Maart op Robertson by die SA Kersfeeskore Raad A-kampioenskap verteenwoordig.
Loving Shepherds, Progress en Young Coronations sal op Sondag 22 Maart op Stellenbosch in die B-kompetisie deelneem.
Loving Shepherds staan gereed vir die beoordeling van hul kleredrag.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'