HESSEQUA NUUS - 'n Gedig deur Bernard Fielies
wêreld se gruwels bederf Kersfees se geur
en probeer die ware betekenis blokkeer
die HEILAND gebore, maar die volk staan ver
en so baie volg nie meer Betlehemster
geen goud, wierook en mirre om te gee,
in ons selfsugtige en eiewyse weë
ons sukkel om ons naaste lief te hê
en dis maklik om mekaar sleg te sê
selfs vandag se "wyse manne" het verdwaal,
"herders" wil nie verlore skape gaan haal
soveel dans op die ritme van onheil se lied,
in sonde en skande gaan mensdom tot niet
ek verlang na vorige voedsel van vrede,
want ek verstik aan etes van die hede
die duiwel het alreeds 'n tafel gedek,
vir sy "feesmaal" word al lippe afgelek
die vyand se fontein sal tydelik verfris,
maar van gif in strome is ons onbewus
te maklik word JESUS eenkant gesit
en sal ons eerder "Vader Krismis" aanbid
tussen kleurryke liggies en kersgesange,
hoor ek hulpgeroep uit gruwels se gange
ek kan rou snikke hoor en trane sien val,
van verdwaaldes in doodskaduwee se dal
geskenke word gekoop en huise getooi,
wyl 'n ma haar baba in vullisdrom gooi
'n bejaarde iewers eensaam en verstoot,
sal gebroke wag vir die uur van die dood
mishandeldes se gille skeur deur die nag
en elders word 'n kind aanhoudend verkrag
in dwelms se doolhof vergaan ons jeug
en in stilte is iemand wat selfmoord pleeg
op seer se pad sal ons die afrit kry
wat na hoop en ware verlossing lei
soos die "heilige nag", strelend en stil
kan ons ope velde weer met vrede vul
om die blye boodskap reg te verstaan,
sal ons t'rug na die nederige stal moet gaan...
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'