Update
HEIDELBERG NUUS - Die Nuwe Apostoliese Kerk in die Heidelberg-distrik het vanjaar besluit om tydens die jaarlikse Jeugmaandvieringe 'n helpende hand na 'n bekende inwoner en vryskutskrywer, Clive Pretorius, uit te steek en sy huis te verf.
Volgens Alroy Windvogel, distriksoudste en afgetrede polisielid, het hy die inisiatief geneem en aan sy medeknegte voorgestel dat hulle Clive se huis mooimaak aangesien hy so baie vir die gemeenskap doen in sy hoedanigheid as 'n vrywilliger by die dorp se advieskantoor.
Sodoende bespaar hy vir inwoners baie tyd en geld deur probleme met hul pensioentoelaes en vele ander arbeidsprobleme op te los.
Windvogel sê dat hulle aanvanklik net die huis se mure sou verf, maar dat hulle besluit het om die dak skoon te spuit, asook om die voor- en agterstoep se stene te vervang en te pleister.
Senior knegte het 'n paar dae voor Jeugdag met die werk begin en dit op Jeugdag afgesluit met jeugdiges wat die hele erf opgeruim en ook die straatvullis opgetel het.
Daarna het hulle kos in Hoogstraat en aan verskeie werkers by die ingang van die dorp gaan uitdeel.
Clive was vol lof vir dié ruimhartige gebaar en sê hy is diep dankbaar vir die kerk se uitreiking aan diegene wat nie so gelukkig is om dinge vir hulself moontlik te maak nie.
Die groep jeugdiges en knegte, onder leiding van distrikoudste Alroy Windvogel, het op Jeugdag hard gewerk as deel van hul jaarlikse Jeugdagviering.
Vorige artikel: Kerk reik uit op Jeugdag
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'