Gallery
HEIDELBERG NUUS - Kairos Senior Sekondêr het Donderdagaand, 19 Oktober, hul erkenningsaand in hul skoolsaal gehou.
Die aand se verrigtinge is goed deur die ouers en voormalige leerders bygewoon. 'n Groep leerders onder leiding van een van Kairos se onderwysers, Raoul Moolman, het die aanwesiges met hul goue stemme trakteer.
Elmarie Jegels, 'n gr. 12-leerder van Hoërskool Heidelberg, het die mense in vervoering gehad met haar sangstukke.
Benewens die leerders, ouers en personeellede, was daar ook genooide gaste waaronder, Vivian Prins, voormalige skoolhoof, Jacques Nell, skoolhoof by Hoërskool Heidelberg, Ralph Jacobs, skoolhoof van De Waalville Primêr, Zandra Davids, skoolhoof van Vondeling Primêr en Grant Riddles, uitvoerende burgemeester van Hessequa-munisipaliteit.
Lenichia Willemse, persoonlike assistent van Riddles, het die mense toegespreek en aan die leerders gesê dat hulle hulself moet motiveer en nie toelaat dat hulle of hul ouers se huidige omstandighede hul toekoms en waardes bepaal nie.
Met verwysing na Joël 3 vers 8, het Willemse benadruk dat melk en heuning soveel soeter proe as jy hard daarvoor werk.
"Wat jy insit sal jy uitkry. Dis jou insette wat sal bepaal wat die kwaliteit van jou oes sal wees.
"Druk deur en hou aan om jou drome te verwesenlik. Jy gaan die vrugte pluk as jou lewensboom die regte saad gevoed word."
Met verwysing na die vele uitdagings wat veral die jeug vandag in die gesig staar, het Willemse die volgende onder luide toejuiging benadruk: "Your vibe attracts your tribe."
Benewens die erkenning aan al die presteerders, is daar ook erkenning aan Doons le Roux, 'n plaaslike sakeman vir sy bydrae tot die skool asook Suzy Michaels vir haar onbaatsugtige diens aan die skool as kok die afgelope 15 jaar.
FOTOGALERY: Erkenningsaand Kairos Senior Sekondêr
Anslin Februarie is as gr. 8 se beste presteerder aangewys.
Daar was ook 'n spesiale toekenning aan Robyn Meyer, 'n gr. 9-leerder, vir haar vyfde plek uit 21 leerders, wat deel uitgemaak het van die SAPD Tuinroetedistrik se junior kommissaris-verkiesing gedurende Augustus in George met haar toespraak 'Disfunksionele Gesinne.' Die toekenning aan haar is deur kapt. Noxolo Rulwa, plaaslike Vispol-bestuurder, en sers. Imorgene Hendricks, plaaslike sosiale- en mediabeampte, oorhandig.
Wendy Vollenhoven, beheerliggaam-voorsitter, het haar dank en waardering aan al die aanwesiges en spesifiek aan "mister" Thysie Februarie, skoolhoof van Kairos Sekondêr, uitgespreek.
Februarie het op sy beurt sy personeel, doserend en nie-doserend, beheerliggaamlede, leerders, ouers asook borge en donateurs hartlik bedank vir hul ondersteuning en rolle wat hulle in die sukses van die skool speel. "Sonder julle is dit nie moontlik nie."
Dieriego September en Lakechia Paige is as sportman en sportvrou van die jaar aangewys. Paige en Sergio Pieterse is as die beste atlete bekroon en Leonay Roberts is duxleerder.
Gr. 12 se toppresteerders is van links: Micealyn Amsterdam (2de), Leonay Roberts (1ste) en Chandré September (3de). Roberts is ook as duxleerder aangewys.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’