Update
HEIDELBERG NUUS - Dis verblydend dat daar nog organisasies is wat in die knellende tye waarin ons nou leef die nood raaksien en iets daadwerklik daaromtrent wil doen.
Een so 'n instansie is die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) wat die behoefte aan 'n klanksisteem by Kairos Senior Sekondêr geïdentifiseer het en 'n moderne klankstelsel aan die skool geskenk het.
Volgens Gerswin Cupido, SBA-projekbestuurder wat die toestel Dinsdag 19 Julie aan die skool oorhandig het, was die skenking al ’n geruime tyd op hul lys - nog voordat Vivian Prins, voormalige prinsipaal, afgetree het.
Tydens die oorhandiging aan Thysie February, waarnemende prinsipaal, het Cupido vlugtig aan die onderwysers verduidelik hoe die klanksisteem werk en die hoop uitgespreek dat dit die skool se aanbiedinge in die saal tot voordeel sal strek.
February het Cupido en die SBA hartlik bedank vir die skenking van die klanksisteem, wat die skool al lank al benodig, maar nie kon bekostig nie.
Hy het belowe dat hulle dit goed sal oppas en die luidsprekers so gou moontlik teen die mure sal hang waar dit nie maklik bereikbaar sal wees nie.
Groot dankbaarheid. Gurswin Cupido, SBA-projekbestuurder (tweede van links), oorhandig die klanksisteem aan Thysie February, waarnemende prinsipaal van Kairos Senior Sekondêr. Leazle September, departementshoof (links) en Antoinette Windvogel, sekretaresse, staan trots by. Foto: Clive Pretorius
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'