Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Twee vroue met 'n besondere boodskap op Vrouedag het 'n viering in die Lede in Christus-kerk waarde gegee.
Emor Nel en Marlene Potgieter het elkeen op hul eie manier tot die vrouelidmate van die kerk gespreek.
"Jy mag lief wees vir wie jy is en jouself uitleef," het Nel gesê. "As jy lief is vir jouself, kan jy na ander luister, hulle troos en van jou liefde vir hulle gee.
"Maar jy het ook die reg om aandag aan jouself te gee - jy het die reg om goed te lyk, jy mag opstaan vir jouself en geluk vir jouself eis."
Sy het ook gesê dat 'n mens met die verloop van jare ryper word deur van mekaar te leer, en om meer waardering te hê vir wat jy het en wat jy gehad het, maar verloor het.
"Dis maklik om te sê jy is 'n Christen, maar as jy dit nie leef nie, gaan niemand jou glo nie. Jy mag ook jou plek inneem sonder om minderwaardig teenoor enigiemand te voel. Jy het 'n doel op hierdie aarde en mag nie misbruik word nie."
Marlene Potgieter, ook bekend as 'juffrou Pottie', se boodskap het ook 'n groot invloed op die vroue gehad. "As jy voor 'n spieël staan, het jy nog 'n vonkel in jou oog, of het daar 'n dofheid gekom? Het jou gladde voorkop 'n kommerplooi gekry? Is jy nog iemand wat hartlik kan lag, of trek jou mond droewig af? Het jou skouers krom geraak en jou hande, wat kon saamkom in gebed, saamgeklem geraak oor kommer? Onthou, jy is 'n pêrel in God se kroon, en jy is 'n pêrel in sy hart.
"Sommige tye is sleg, maar dis 'n pad wat jy self moet loop. Maar ons kan 'n bietjie saam huil en saam lag, want ons weet nie wanneer die Groot Tydhouer kom nie.
"Moenie uitstel om gelukkig te wees nie."
Kyk 'n video hieronder:
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'