HESSEQUA NUUS - Die domino-effek van die nuutste vlaag beurtkrag op plaaslike besighede moet nie onderskat word nie.
Sakeondernemings is hande in die hare nadat Eskom aanvanklik net fases 1 en 2 ingestel het, maar op Maandag 9 Desember tydelik na fase 6 moes eskaleer.
Nat steenkool weens wydverspreide reën word as een van die redes waarom die kragvoorsiener nie tans voldoende elektrisiteit kan opwek nie, aangevoer.
Suid-Kaap Forum het 'n meningsopname onder klein en groot sakeondernemings in die streek gedoen om te hoor hoe beurtkrag hulle raak.
Wat munisipale dienste betref is Hessequa munisipaliteit gereed om enige kragkrisis die hoof te bied. Volgens munisipale bestuurder Johan Jacobs skakel die munisipaliteit se diesel-kragstasie op Riversdal onmiddellik aan sodra Eskom die toevoer afskakel. Alle dienste gaan voort soos normaal en die middedorp is ook van elektrisiteit verseker. Die enigste moontlike knelpunt is die verhoogde druk wat tydens kragonderbrekings op pompstasies vir water en riool geplaas word. Die munisipaliteit het bystandsopwekkers by al die stasies en volgens Jacobs word kapasiteit uitgebrei soos nodig.
Johan Crous.
Johan Crous van Die Handelshuis op Riversdal meen die beurtkrag is ‘’n absolute sirkus’. “Waar gaan dit eindig? Hierdie is ons besigste tyd van die jaar, maar my besigheid staan stil. My omset is vergeleke 2018 met 30% af. Dis groot geld wat mens verloor.”
Hy meen die beurtkrag is ook vir vakansiegangers sleg. “Dis vir ons skeptyd, maar vir hulle is dit ’n wegbreekkans waarna hulle heel jaar uitsien en nou word hul pret met ure lange kragonderbrekings bederf.” Volgens hom is daar reeds ’n tekort aan paraffien. “Eskom gebruik derduisende liters diesel en dis net ’n kwessie van tyd voor daar ’n tekort gaan wees, wat aflewerings gaan beïnvloed.”
Gelukkig is buurt- en plaaswaglede met tweerigtingradio’s in verbinding met mekaar, sê Crous, wat ook die voorsitter van die Goukou-buurtwag is. “Die radio’s moet gelaai word, maar die batterye hou darem twee dae. Die herhalers werk met batterye. Ons kan dus ons veiligheidswerk voortsit.”
Corné von Molendorff.
Corné von Molendorff van Stilbaai se OKFoods verduidelik dit so: “Ons is van verskaffers afhanklik om ons rakke vol te hou. Die verskaffers ly ook onder afname in produksie as gevolg van kragonderbrekings en kan nie noodwendig ons bestelling uitvoer wanneer ons dit skielik nodig kry nie, wat vir hulle ’n finansiële verlies beteken. ’n Klant wat by ons instap en leë rakke sien, stap na die volgende winkel toe en so verloor die hele ketting besigheid en geld.” Die winkel het ’n groot kragopwekker wat al die rekenaarstelsels, yskaste en oonde kan trek, maar volgens Von Molendorff beloop hul dieselrekening R2 000 tot R3 000 per dag. Die vertoonyskaste is met plastiekgordyne, wat teen sluitingstyd afgetrek word, toegerus. Dit hou heelwat koue lug binne en die yskaskompressors hoef nie so hard te werk nie.
Adolf Botes.
Vir Adolf Botes van Stilbaaikelders en die Blou Seekatdrankwinkel is die grootste kopseer die verliese aan toerusting wat hy en sy medeeienaar Johannie Vermeulen al sedert die begin van beurtkrag moes absorbeer: “Ek het al ten minste R60 000 gespandeer om uitgebrande kompressors te vervang.” Om verliese te probeer minimaliseer het hy nou beskermingstoestelle teen R6 000 stuk laat installeer, wat sal verhoed dat ’n kompressor probeer aanskakel indien enige van die drie fases krag nie op die regte sterkte is nie. Botes het lof vir hul klante se begrip vir die moeilike situasie, want hul kragopwekkers kan slegs die kasregisters en ligte hanteer maar nie die yskaste nie.
Magda Jackson.
Beurtkrag lê ook Magda Jackson, eienaar van Enyakoffiewinkel op Riversdal se besigheid aan bande. “Ons is in die bakbedryf en ’n kragopwekker wat stowe kan trek, is baie duur. Dis veral erg as die krag tussen 08:00 en 10:30 onderbreek word, want dan moet ons vroeër begin bak, wat weer tot oortydlone lei.”
Volgens haar is die voete by die koffiewinkel minder. “Al maak ons ’n plan met die bakwerk en kom ons oor die weg met gas, kom mense nie aan nie omdat hulle verwag ons kan dalk toe wees. Die wat wel ’n draai maak, verstaan gelukkig dat dit omstandighede en nie swak diens is nie.”
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'