MOSSELBAAI NUUS - Die jongste deelnemer ooit in die opkomende Survivor SA-realiteitstelevisiereeks, Katinka Oosthuizen, kom uit die Suid-Kaap en is 'n oudleerder van Hoërskool Punt op Mosselbaai.
Vandat Katinka 'n jong dogtertjie was, was Survivor iets wat hulle as familie altyd saam gekyk het. Vir haar was die beste deel altyd die challenges. Sy is mal daaroor om te klim en klouter en Survivor het volgens haar altyd dié coolste klimrame gehad.
Soos Katinka ouer geword het, het die strategie van die spel vir haar meer uitgestaan en toe sy sien dat die inskrywings oop is, het sy geweet sy móét probeer om in te kom.
Voor sy tot verhaal kon kom was sy op 'n vliegtuig - min wetend wat dit alles behels.
Al is sy net 19 jaar oud, was ouderdom nie vir haar 'n faktor in die spel nie. Sy het dit wel tot haar voordeel gebruik wanneer sy moes. Katinka hoop dat haar ondervinding jonger meisies sal inspireer, want sy weet nou jy kan enigiets doen wat jou hart begeer.
Met die eerste ontmoeting het sy rondgekyk vir iemand wat dalk dieselfde ouderdom as sy is, maar het gou besef dat sy die enigste tiener daar was en omdat sy die jongste was, moes sy bewys dat sy 'n sterk speler is.
Volgens Katinka was daar definitief deelnemers wat sterker voorgekom het as ander en almal wou hulle sterkpunte bewys. Almal is in die diep kant ingegooi en moes dieselfde proses deurgaan om Survivor te wees.
Daar was baie uitdagings, waarvan een was om toiletpapier uit blare te maak. Haar grootste struikelblok was om stil te bly, want sy hou van praat en haar hoogtepunt was om elke oggend wakker te word op 'n tropiese eiland.
Die belangrikste les wat sy geleer het is dat jy mag, moet en vir jouself kan opstaan, maak nie saak hoe oud jy is nie.
Vir ander jongmense wil sy sê: "Los julle fone vir 'n week in julle kaste en vind iets anders om jouself mee besig te hou. Hou op om op diets te gaan. Ek sal nooit weer te min eet nie. Toe ek op Survivor was, het ek net teruggedink aan al die kos wat ek nié geëet het nie! En sit jouself buite jou gemaksone. Jy sal verbaas wees wat jy van jouself kan leer."
Katinka sal vanaf Donderdag 3 Mei, wanneer Survivor South Africa: Philippines op M-Net, DSTV-kanaal 101 begin, te sien wees.
Volg haar op haar Youtube-kanaal.
Lees meer op ons susterskoerant, Mossel Bay Advertiser
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'