HEIDELBERG NUUS - 'n Jongman is in 'n ernstige toestand in die George-hospitaal opgeneem nadat hy Saterdagaand, 11 Februarie, glo wreed met 'n stomp voorwerp aangerand is.
Die slagoffer, Justin Vaaltyn (27), verkeer volgens sy broer, Peter-John Mert, in 'n bedenklike toestand in die hospitaal nadat hy in die voetpad langs die N2 gevind is.
Volgens sers. Imorgene Hendricks, plaaslike mediabeampte, het die hulle ongeveer 21:40 'n oproep van 'n aanranding iewers naby die voetbrug in Hoogstraat ontvang.
Die beamptes aan diens is na die toneel waar hulle op die slagoffer afgekom het.
Ná behandeling op die toneel is hy na Riversdal-hospitaal geneem waarna hy na George-hospitaal oorgeplaas is.
Die polisie ondersoek 'n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Hendricks het 'n ernstige beroep gedoen op enigiemand wat aan hulle die nodige inligting kan verskaf wat tot die inhegtenisneming van die skuldige persoon(e) kan lei.
Sy kan by 079 893 9930 geskakel word of die inligting kan by die polisiestasie ingegee word.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'