RIVERSDAL NUUS - 'n Groot groep jeugdiges, lede van die jeuggroep #Imagine, het die bejaardes in tehuise op Riversdal met omgee bederf.
#Imagine is 'n landwye jeugbeweging wat na plaaslike gemeenskappe uitreik. Riversdal se tak, onder leiding van André Jordaan, leraar by die NG Moedergemeente is reeds sedert 2014 hierby betrokke.
"Elke jaar het talle tieners met busse na die #Imagine-byeenkomste gereis wat op Bredasdorp aangebied is. Daar was ons deel van bykans 3 000 tieners van regoor die Wes-Kaap wat 'n ontmoeting met Jesus deur lof- en aanbidding gehad het.
"Daar was ook die getuienisse van gelowiges wat God se Woord prakties aan hulle verduidelik het. Dié projek het sedertdien gegroei tot vier byeenkomste wat regoor die land gehou word. As gevolg van Covid-19 kon daar egter nie verlede jaar byeenkomste gehou word nie," sê hy.
Daarom het hulle vanjaar besluit dat elke dorp sy eie plaaslike geleentheid sou aanbied.
"Ons het beplan en idees uitgeruil en besluit om in April projekte regoor die land op 80 verskillende dorpe aan te bied."
Riversdal se hoogtepunt was 'n opwindende byeenkoms op 21 April by die Moedergemeente se kerksaal in Langstraat. Sowat 100 leerders van die dorp se hoërskole het saamgekom vir 'n dag van viering en uitreiking.
Vroegmiddag is daar gesing, gedans, geloof en gees geskep op die maat van moderne, relevante Christenmusiek; byderwets deur "DJ AJ", oftewel ds André Jordaan gelei.
Sowat 100 van die beweging #Imagine loof en aanbid. INLAS: "DJ AJ", oftewel ds André Jordaan. Foto's: Christiaan de Swardt
Daarna het die jeugdiges na die dorp se tehuise, Ou Meule en Jan Lange opgemars wat deur die Droomsentrum bedien word. Die tieners het die bejaardes met 'n pakkie soetkoekies en lekkerruikseep bederf, geselsies aangeknoop en omgee uitgestraal. Streng gesondheidsprotokol is gehandhaaf en die uitreiking moes deur die tehuise se tralies geskied.
Die beloning was 'n wedersydse verrykende ervaring vir jonk en oud.
Jordaan sê: "Die #Imagine-beweging se visie is om saam te droom, saam te glo en saam te doen, om werklik saam 'n verskil in álmal se lewens te maak."
Ina Roussow (agter) en die egpaar Marthie en Frikkie Norden van Ou Meule is drie van die bejaardes wat deur die jeuggroep #Imagine bederf is.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'