HESSEQUA NUUS - Toe John Wills op 1 Augustus 2021 die leisels by Naas Palmer oorgeneem het as voorsitter van die Jongensfontein-inwonersvereniging, het hy vir homself sekere mikpunte ten doel gestel.
Een was 'n drastiese toename in die ledetal. Op daardie stadium was net sowat 25% van inwoners lede en Wills het geglo dat die sorge van die gemeenskap nie net op 'n kwart van die gemeenskap se skouers kan rus nie.
Vandag staan die ledetal op 40% en Wills se mikpunt is om binnekort die 50% merk verby te steek.
Om dit te vermag staan Celezte Ellis en Denise Maré vir Wills by en die driemanskap is die komitee wat die vereniging stuur en bedryf.
Hulle het ook iemand wat vir 'n paar dae 'n week inkom en dan byvoorbeeld die paadjies skoonmaak asook ander publieke areas.
Jy sal hom selfs teëkom besig om langs die pad wat inkom van Stilbaai af, bossies uit te kap.
Elke dag besig
Die vereniging skakel met Hessequa-munisipaliteit rakende instandhouding en verbetering van die dorp se infrastruktuur.
Dit beteken dat Wills elke dag die dorp se waterbron inspekteer om te verseker die vore is skoon, die pompe werk en daar is 'n vryvloei van water.
Noodgevalle word hanteer en gekommunikeer met Hessequa-munisipaliteit. Hulle skakel gereeld met die verkeersdepartement rakende verkeersprobleme en is voortdurend besig om die veiligheid van inwoners te verseker.
Daar is ses sekuriteitskameras op strategiese plekke wat inskakel by die stelsel op Stilbaai.
Inwoners word ook gereeld daarop gewys dat elkeen eerstens verantwoordelik is vir sy of haar eie veiligheid by die huis.
Na die wanordelike gedrag in Desember van 'n groep jongmense wat van elders op Jongensfontein toegesak het en by die swemgat bottels gebreek het, skade aan inwoners se eiendom berokken het en so erg tekere gegaan het dat die polisie moes ingryp, is besluit om met die afgelope vakansie 'n sekerheidsmaatskappy te gebruik om 'n herhaling van die chaos te voorkom.
Indien inwoners dit as 'n noodsaaklikheid sien, sal die betrokke maatskappy 'n satellietstasie op Jongensfontein vestig, maar dit kom natuurlik teen 'n prys.
Ledegeld en fondse
Sowat 120 mense het die algemene jaarvergadering in Desember bygewoon en sommige mense moes buite die stampvol kerksaal staan.
Daar het Wills voorgestel dat die jaarlikse ledegeld verhoog word tot R900 per jaar - steeds slegs R75 per maand.
'n Druppel in die emmer in vergelyking met wat vermag word tot voordeel van al die inwoners en vakansiegangers.
Om fondse aan te vul het die vereniging twee kunsmarkte elke jaar. Die Paasmark wat komende Saterdag 16 April plasvind en die Kersmark in Desember.
Daar word gepoog om 100 stalletjies by die Paasmark te hê en dit lok gewoonlik 'n groot aantal mense.
Daar is ook elke jaar op 31 Desember die Lanternloop en verlede jaar is 760 battery-aangedrewe lanterns verkoop. Tussen 800 en 'n 1000 mense het uiteindelik deelgeneem.
Dit sorg vir 'n wonderlike atmosfeer en is 'n instelling op Jongensfontein.
Hartlike dank
Die vereniging wil dan ook almal bedank vir die ruimhartige donasies wat hulle van tyd tot tyd ontvang. Elke sent hiervan word gebruik tot voordeel van inwoners.
NSRI het byvoorbeeld die ketting gespan by die swemgat om te help as die gety iemand sou intrek. Die rotse waar die reling is word drie keer per jaar met 'n hoëdrukspuit gespuit sodat dit nie so glibberig is nie.
Hessequa-munisipaliteit het fondse beskikbaar gestel om die historiese fonteinhuisie op te knap.
Dit huisves die museum op Jongensfontein en die stoorplek dien nou as kantoor vir die inwonersvereniging. Inwoners is welkom om hom daar te gaan sien of te skakel by 071 673 5459. Sy e-pos is info@jiv.co.za .
As Wills nie op kantoor is nie, is hy verseker iewers besig met 'n inspeksie of om 'n noodgeval uit te sorteer.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'