HESSEQUA NUUS - Die Hessequa-raad het die Konsep GOP en begroting op 26 Maart goedgekeur. In terme van wetgewing moet die dokumente aan die publiek bekend gemaak en geleentheid vir kommentaar gebied word.
April is gewoonlik die maand waar die burgemeester die GOP en begroting aan gemeenskappe per vergaderings bekend stel, maar weens die inperking kan dit nie gebeur nie. Dit was wel beskikbaar by biblioteke en kantore, wat nou gesluit is.
Die munisipaliteit bied inwoners egter steeds die geleentheid om aan die proses deel te neem.
Behalwe vir die beskikbaarheid van die dokumente op die munisipale webtuiste, word elektroniese media gebruik om dit aan inwoners beskikbaar te stel. Hierdie kennisgewing word sover moontlik op sosiale media versprei om almal van die proses bewus te maak.
Dokumentasie kan per e-pos gestuur word, of inwoners kan dit van die munisipale webtuiste, www.hessequa.gov.za aflaai. Skakels na die dokumentasie sal ook op hul Facebook-blad geplaas word, wat jou direk na die dokumentasie sal neem.
Geleentheid vir kommentare is tot en met 30 April 2020, wat skriftelik per epos aan die munisipale bestuurder by info@hessequa.gov.za gerig kan word. Alle insette sal deur die raad oorweeg word.
Persone wie nie kan lees of skryf nie, sal na die inperkingstyd die munisipale kantore kan besoek vir ondersteuning.
Belangrike dienste sal in hierdie tyd voortgaan en kan enige dienslewering onderbrekings kan soos normaal aangemeld word.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'