HESSEQUA NUUS - 'n Vriendskap wat ontstaan het as gevolg van 'n wol-advertensie op sosiale media, het na die Covid-19-pandemie die land getref het, tot 'n wonderlike uiteinde gelei.
Tydens een van hul gesprekke het Hieda Goldberg, Solidariteit Helpende Hand Stilbaai se takvoorsitter aan Lizette Myburgh, eienaar van 'n wolwinkel op Ellisras voorgestel om 'n kuier- en geselsgroep op WhatsApp te skep waarvan enigeen wat wil, deel kan word.
En so word Saartjie Lockdown gebore.
Aanvanklik was daar 13 vroue. Resepte is uitgedeel, foto's is rondgestuur, lief en leed is gedeel en op hierdie manier kon die vrees vir die onbekende virus wat so 'n mag oor alles het, bietjie verlig word.
Tydens vlak 5 van die inperking het die groep vroue besluit om iets te doen om die mense in plakkerskampe te help wat geen regeringshulp ontvang nie. Geld is onder mekaar ingesamel en hulle koop wol by Lizette aan, wat op vindingryke maniere na Riversdal vervoer word.
Hieda het van 'n paar vroue geweet wat tyd op hande het. Hulle word toe wol, breipenne en patrone in die hand gestop om warm goed vir kinders te brei. Kort voor lank het hierdie flukse groepie 'n hele stapel truitjies, musse, handskoene, klapmusse en bedsokkies gebrei en gehekel.
"Ek het Marlise Labuschagne, streeksorganiseerder van Helpende Hand in die Suid-Kaap se nommer bekom, wat hierdie besending in ontvangs geneem het en seker maak dat dit by baie behoeftige kindertjies uitkom," vertel Hieda.
'n Klompie van hierdie vroue is toe so begeesterd dat hulle vanjaar besluit om 'n soortgelyke projek aan te pak. So ontstaan Omgee Warm Lyfies. Die groep het aan die werk gespring en vanaf Januarie het warm truitjies, kombersies, musse en handskoene ingestroom.
Elke item is gemeet, in 'n sakkie gesit en het 'n handgemaakte kaartjie met 'n spesiale boodskap daarby gekry. Die ouderdom van die kind waarvoor hierdie item moontlik sal pas is op die sakkie aangebring en op 'n totaal van 117 truitjies, 11 kombersies, 28 mussies met handskoentjies en 12 stelle kleertjies vir vroeggebore babas is onlangs aan Helpende Hand Suid-Kaap oorhandig.
"Baie dankie aan die vrouens van Lephalale, Polokwane, Musina, Stilbaai, Vryheid, Riversdal, Port Nolloth, Botswana, Secunda en Kempton Park. Julle is voorwaar mense om op trots te wees," het Hieda gesê. Almal is weer fluks aan die werk om voorraad op te bou, maar daar is 'n groot behoefte aan wol.
Enigiemand wat bereid is om wol te skenk, stuur e-pos na hiedagoldberg@gmail.com
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'