RIVERSDAL NUUS - Die inwoners en bestuur van Huis Wallace Anderson op Riversdal neem met groot hartseer afskeid van hulle "pa", oom Thinus Duvenhage.
Oom Thinus is Sondagoggend, 29 Augustus, omstreeks 07:30 oorlede, en laat 'n groot leemte in hulle harte.
Hy het diep spore in en om die huis "gery" en as oom Thinus eers sy hoed opgesit het, het almal geweet hy is op sy eie missie. Waar hy gegaan het, het hy mense geraak.
Agtergrond
Oom Thinus is op 16 September 1944 gebore en het grootgeword op ‘n plaas in die distrik Niekerkshoop in die Noord-Weskaap. Hy het op Hoër Landbouskool Marlow, net buite Cradock, matrikuleer. Na skool is hy weermag toe vir 'n jaar voor hy op Grootfontein Landbou Kollege gaan studeer het. Daarna het hy vir agt maande in Australië gewerk. Met sy terugkeer het hy by BKB as 'n agent gewerk en op 12 Julie 1969 is hy getroud met Kowie Beukes.
Net drie maande later het tragedie getref toe hy op 24 Oktober sy nek in 'n motorongeluk gebreek het.
Na sy rehabilitasie het hy weer by BKB gewerk en Kowie het hom tuis versorg tot 2001 waarna hy in Huis Wallace Anderson geakkommodeer is.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'