ALBERTINIA NUUS - Hoërskool Albertinia het vanjaar vir die eerste keer 'n 'Konsert van Hoop' op die dorp en ook die heel eerste produksie op Albertinia en Suid-Kaap gehou.
Die inisiatief is deur 'n plaaslike jong jeugleier en rolmodel in die gemeenskap ontwikkel om nasiebou te bevorder, diverse kulture saam te bind en dat die kunste in alle vorme ewe veel waarde dra. Dit is deel van die skool se inklusiewe fokus om hul kultuur te bevorder en sodoende ook die gemeenskap te motiveer om talente in kuns en musiek bloot te stel. Die gelde geïn gaan aan die skool om vir die leerders kwaliteit onderrig te bied en om te sorg dat geen onderwyser verloor word nie.
Die unieke produksie word deur Gerswin Cupido saamgestel om plaaslike talent binne die Hessequa-gebied die geleentheid te gee om 'n verhoog met Hemelbesem, Jarrad Ricketts en Talitha Luiters, asook plaaslike kunstenaars van die streek te deel, naamlik Merchia Gunguluza en Peter-John Petersen.
Cupido bring ook hierdie produksie om hoop binne die gemeenskap te vorm en om mekaar te kan ondersteun, veral ook ondersteuning aan die skole.
Hierdie program is uiteenlopend en daar is iets wat binne almal se smaak val: Woordkuns, komedie, klassieke en populêre musiek en vele meer. 'n Onafgehandelde byeenkoms en onafgehandelde gesprek word verteenwoordig waar mense uit verskillende gemeenskappe mekaar kan hóór, raaksien en verryk.
Die 'Konsert van Hoop' vind Saterdag 8 September by Hoërskool Albertinia om 19:00 plaas. Meer inligting en kaartjies is beskikbaar by die skool of skakel 073 589 7648.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'