JONGENSFONTEIN NUUS - Hoofweg in Jongensfontein, wat tydens swaar reën op 3 Mei vanjaar groot skade opgedoen het toe 'n groot deel van die pad weggekalwe het, sal waarskynlik teen einde volgende week vir tweerigtingverkeer oopgestel kan word.
Motoriste moes vir die afgelope agt maande van 'n ompad al langs die see gebruik maak om van die een kant van die kusdorp na die ander kant te kon ry.
Jongensfontein Inwonersvereniging (JIV), verteenwoordig deur John Wills, Hessequa-munisipaliteit en lede van Tuinroete-distriksmunisipaliteit het Maandag, 7 Desember vergader om die situasie te bespreek.
Die distriksmunisipaliteit het aangedui dat hulle volstoom besig is om die pad rybaar te maak en dat dit voorlopig 'n gruis oppervlak sal wees. Om hierdie doel te bereik gaan hulle Saterdag en Sondag werk.
Vir veiligheid gaan betonblokke aan die kante gepak word en daar sal ook sandsakversterkings wees. Waarskuwingsborde sal mense maan dat die pad nog onder konstruksie is en dat hulle uiters versigtig moet wees. Die pad sal onmiddellik gesluit word indien dit te gevaarlik is om daar te ry.
LEES: Hoofstraat is nie vergete
Sodra die distriksmunisipaliteit weer in Januarie open, is hulle doel om die pad so gou moontlik te teer en ten volle in bedryf stel. Indien alles volgens beplanning verloop, sal dit moontlik teen einde Januarie wees.
Wills het voorgestel dat die pad teen die see gedeeltelik eenrigting word terwyl konstruksie nog aan die gang is, om sodoende die verkeer te laat vloei. Die munisipaliteit moet egter nog daaroor besluit.
Die skade aan Hoofweg in Jongensfontein kan hier duidelik gesien word.
'Ons bring jou die nuutste Jongensfontein, Hessequa nuus'