HEIDELBERG NUUS - Die 2022-matriek-leerders van albei hoërskole in die dorp se lang gewag op hul uitslae het weereens groot blydskap, maar ook trane van vreugde gebring.
Hoërskool Heidelberg (HSH) glimlag breed nadat hulle vir die tweede agtereenvolgende jaar hul 100%-slaagsyfer kon handhaaf. Dit, nadat hulle dit nie in 2019 en 2020 kon behaal nie.
Kairos Senior Sekondêr, wat tot dusver net een keer in 2004 'n 100%-slaagsyfer kon behaal, het dié keer die prestasie net-net gemis met 'n slaagsyfer van 98,6%.
Dit is wel 'n verbetering van 4,3% op die vorige jaar se slaagpersentasie.
Net een van die 73 matrikulante het dit nie gemaak nie.
Alhoewel Kairos nie 'n 100%-slaagsyfer kon behaal nie, het hulle wel 49% (36) Baccalaureus-vrystellings verwerf wat een minder as in 2021 was.
Daar is ook 41% (30) diploma- en 8% (6) hoër sertifikaatvrystellings wat verwerf is.
Sonél Kouter, met haar 75,14%-slaagsyfer en twee onderskeidings in Engels en toerisme, was Kairos se topleerder vir 2022. Sy is deur Angelique Garlick (74,1%) en Alicia Kleynhans (70,43%) gevolg.
Sonél is in hierdie stadium nog nie heeltemal seker in watter rigting sy gaan studeer nie. Angelique gaan onderwys studeer en Alicia arbeidsterapie.
By HSH het 18 leerders met Baccalaureus-vrystellings geslaag terwyl vier leerders met diplomatoelatings geslaag het.
LINKS: Die gesigsuitdrukkings wys duidelik dat Kairos Senior Sekondêr se top-10-presteerders in hul noppies is met hul uitslae. Agter, van links is Tarryn-Lee Phillips (4de), Maurio Phillips (9de) en Chanté Februarie (10de). Derde ry: Haley Riddles (7de) en Quinnley Johannes (8ste). Tweede ry: Alicia Phillips (5de) en Ledesher Cupido (6de). Voor: Alicia Kleynhans (3de), Sonél Kouter (1ste) en Angelique Garlick (2de). Foto's: Clive Pretorius
Dié trio is Kairos se toppresteerders. Van links: Angelique Garlick (2de), Sonél Kouter (1ste) en Alicia Kleynhans (3de).
Lilian Schuller (tweede van links) is saam met Bronville Vollenhoven (links), Rhuwayden Vyfers en Chadley Vollenhoven (regs) bly dat hulle geslaag het.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'