STILBAAI NUUS - Daar is begin om die waterhiasinte wat uit die Goukourivier in die getyrivier by Stilbaai beland het, te verwyder.
Die uitheemse plante kom geruime tyd reeds in die Goukourivier voor, maar met die onlangse reën het die onwelkome plante in die rivier afgespoel.
"Sodra die hiasinte met die soutwater in aanraking kom, gaan almal vrek," sê Jean du Plessis, bestuurder van CapeNature se Stilbaai Mariene-bewaringsgebied.
"Die feit dat ons tonne plantmateriaal gaan hê wat in die getyrivier ontbind, gaan sekondêre implikasies hê. Die ontbindende plante gaan 'n suurstoftekort veroorsaak. As die plante in die soutmoeras bly lê, gaan dit die moeras doodmaak."
"Ek gaan probeer om met Working for the Coast te reël om binnekort soveel as moontlik van die plante van die soutmoeras af te verwyder. Dit is egter 'n onbegonne taak om die tonne plantmateriaal meganies te verwyder."
Die Working for the Coast-program (WftC) van die departement van omgewingsake is geskep om te help om probleme soos hierdie aan te spreek. Dit vorm deel van die groter uitgebreide openbare werke-program (EPWP) se arbeidsintensiewe werkskeppingsprogram.
Die waterhiasint is nie verwant aan die sierlike hiasint wat aan die liliaceae-familie behoort en wat 'n gewilde potplant is nie. Die waterhiasint (eichornia crassipes) van die plantfamilie Pontederiaceae kom oorspronklik uit Suid-Amerika en is sedert 1879 as waterplant in Europa gekweek. Dit het gou wêreldwyd vervuil geraak en is reeds in 1884 in die warmer dele van Noord-Amerika as pesplant verklaar.
In Suid-Afrika is die plant met sy fraai ligpers blomkelke in visdamme in voorstedelike tuine geplaas, vanwaar dit gou na die natuurlike watersisteme versprei het.
In die sestig- en sewentigerjare het dit op die Vaaldam en Hartebeespoortdam gedy en handuit geruk.
Buiten dat die drywende plante wat die watervlak bedek 'n tekort aan suurstof in die water veroorsaak wat die groei van alge bevorder, sak die dooie plantmateriaal af wanneer die plant in die winter doodryp.
Verrottende plantmateriaal verstop dan besproeiingskanale en -stelsels.
Die plant word op meganiese en chemiese wyse beheer en meer onlangs is begin om met biologiese beheer te eksperimenteer.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'