RIVERSDAL NUUS - Riversdal het 'n motorklub gehad. Dis in 1960 gestig en vergaderings is in die Royal Hotel gehou. Ene A Traverso het 'n renstel (go-kart)-baan, wat R1 200 gekos het, op die skougrond gebou.
In 1961 is 'n SWD-byeenkoms gehou waaraan jaers van Port Elizabeth, Bredasdorp, George en die res van die Wes-Kaap deelgeneem het.
Die besoekers is vir die naweek gratis in Eddie Davids se Royal Hotel gehuisves.
Hier kom die interessante feite: Die man wat drie agtereenvolgende jare as die kampioenjaer in die WP-kampioenskappe geseëvier het, was niemand anders as Tobie Jackson nie. Daar is ook Kaapse dameswedrenne gehou en Ida van Wyk het gewys sy staan vir geen man terug nie.
In 1963 het Jackson in Kimberley in Klas 2 vir tweemotorige renstelle met die vinnigste rondtetyd as Suid-Afrikaanse kampioen koning gekraai. In 1967 is hy ook in Queenstown as die SA Klas 1-kampioen gekroon.
Daar was ook stamp-en-stootwedrenne waarin Frans van Wyk, Nico Louw, Nelius Loftus en Danie van Tonder mekaar omtrent laat les opsê en omgedop het.
Die eerste plaaslike tydren is deur 'n Studebaker Lark V8 met Frans van Wyk as bestuurder en Jackson as navigator gewen. 'n Kortkop agter hulle was dr. Wynand Viljoen met sy vrou as hulpbestuurder in sy Auto Union 1000.
Nagtydrenne en besparingsritte, geborg deur brandstofmaatskappye, is ook gereël: 1960 - Mobil Gas: JP Joubert en CJ Loftus in 'n Datsun Bluebird; 1961 - Caltex 2x12 tydren: JP Joubert en sy seun, Jannie in 'n Datsun (vierde plek). Dr. Viljoen en Nelius Loftus in 'n Auto Union 1000, was ook deelnemers.
Jackson het ook in 1961 in 'n spesiale wedren op Killarney buite Kaapstad in 'n Volkswagen Okrasa tweede gekom na hy sy motor getol en 'n Renault Gordini hom verbygesteek het.
Natuurlik was daar ook tyd vir pret en daar was altyd manne wat waagtoertjies wou doen. Een van hulle was Davids. Hy wou met sy Chevrolet deur 'n vuur spring, maar toe hy nie die ratte uit laagste versnelling kon kry nie, het die motor vanaf die oprit die vuur dood geval. Dapperheid word beloon en die kamerpot-trofee is nog lank daarna in sy hotelkroeg uitgestal.
Maar soos die Engelse sê: 'As things go, it went!'
Die Langeberg Motorklub het weens 'n tekort aan die euwel van alle dinge - GELD - gekwyn en gesterf.
Inligting en foto uit die Julius Gordon Africana Sentrum/Versfeld-Huis
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'