RIVERSDAL NUUS - Die poswese was maar 'n probleem in die ou dae! Party mense sal sê dis nie vandag veel anders nie. In vervloë dae is hardlopers gebruik om boodskappe 'oor te dra'. Nou druk ons 'n knoppie en die e-pos vlieg deur die kuberruim.
Later het perderuiters die pos op die hoofroetes karwei, wat nóg later deur poskarre en -koetse oorgeneem is.
Met Riversdal se stigting in 1838, het die posroete deur die dorp gegaan en mense het gereeld pos ontvang. Riversdal het sy eerste poskantoor in 1846 gekry. Mnr. HR Taylor, die eerste posmeester, moes self die pos sorteer.
Die poskarre was omtrent die enigste vervoermiddel vir mense tussen dorpe, met gerespekteerde drywers soos mnre. Hendrik Olieslager, Adam Siegelaar, Sam Martins en die broers Olivier en ook Pedro.
Daar was toe nog geen brûe of spoorlyn nie - dink net aan die ontberings wat hulle moes ervaar het.
Joseph Barry besluit toe om 'n poskoetsdiens tussen Swellendam en die Kaap in te stel, en daarna in 1852 word dit na Riversdal uitgebrei. Die dag is feestelik met sierwaens en die perdekommando gevier. In 1880 word mnr. A Dreyer as posmeester aangestel. George Fraser word in 1881 as die briewebesteller (wat pos by die huise aflewer) aangestel met 'n salaris van R48 per jaar.
Verskillende posmeesters het gevolg, waaronder mnr. William Pywell, wat die aand van dr. Hansell se verdrinking in die Narroo-rivier weens 'n storm en oorvol rivier 'n telegram aan sy vrou wat in die Kaap was, gestuur het. Op 2 Februarie 1929 berig die plaaslike koerant dat daar 'n 'stampede' na die plaaslike poskantoor vir die eerste uitbetalings van ouderdomspensioene was. Vele trane van dankbare blydskap het gevloei, want dit was depressiejare.
Vanaf 1923 was mnr. W Taute die briewebesteller hier vir 14 jaar, waarna hy na die Paarl bevorder is. In Januarie 1950, met die skaarste van papier, is mense gevra om gebruikte koeverte weer te gebruik. 'n Stuk wit papier moes net eers oor die stempel geplak word. Ons sal dit dalk weer moet doen. Dinge verander so vinnig in ons lewens, dat ons amper nie kan tred hou met die vooruitgang nie, maar 'n mens wonder of dit alles ten goede is!
'n Eertydse poskoets.
Foto's en inligting uit die Julius Gordon Africana Sentrum/Versfeld Huis.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'