Gallery
HESSEQUA NUUS - Hessequa-munisipaliteit se jaarlikse verwelkomingsprojek in samewerking met die verkeersafdeling en polisie het die oggend om 10:00 langs die N2 net buite Riversdal afgeskop met 250 geskenkpakkies wat aan motoriste uitgedeel is.
In sy openingstoespraak, voor die begin van die padblokkade het uitvoerende burgemeester Grant Riddles beklemtoon dat nooddienspersoneel 'n baken van hoop vir iemand in nood is.
Hulle is dikwels die eerste mense wat by 'n toneel aankom en die deernis en respek waarmee hulle die slagoffers behandel kan 'n baie groot verskil maak: "Dinge soos skoon oudits is belangrik vir 'n munisipaliteit, maar ons mag nooit ophou wys mense maak vir ons saak nie."
Speaker Andrew Stroebel het aangesluit daarby deur te sê elke amptenaar is 'n ambassadeur vir die streek.
Op Stilbaai het lede van die plaaslike sakekamer Vrydagmiddag saam met raadslede en die burgemeester verwelkomingspakkies aan besoekers uitgedeel. Besighede van die dorp het saamgespan om 'n sakkie met praktiese items soos sonskerms, vuurhoutjies, skryfbehoeftes en dies meer te vul.
Hulle het ook belangrike inligting oor die streek en vakansieprogramme uitgedeel.
Rdl. Ben Smith doen sy deel in Stilbaai.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'