HESSEQUA NUUS - Die buurt- en plaaswagte van AfriForum se Hessequa-tak het Saterdag, 12 September aan verskeie opleidingsmodules deelgeneem, waaronder vuurwapenhantering, persoonlike beskerming en selfverdediging.
Lede van die Riversdal Sentraal- en Aalwynfleur-buurtwag, asook die Albertinia-plaaswag was betrokke.
Johan Crous, veiligheidsvoorsitter van die Hessequa-tak het die vuurwapenopleiding aangebied en Driekus Crous het die opleiding rondom persoonlike beskerming en selfverdediging hanteer.
Die lede het onder meer aan 'n plaasaanvaldemonstrasie deelgeneem. Sommige van die vroue het tegnieke aangeleer wat gebruik kan word wanneer iemand hulle aanval met die doel om liggaamlike leed aan te doen. Wetgewing van toepassing op die gebruik van wapens, asook die beskerming van eiendom is verduidelik en noodplanne en reaksie op noodoproepe is ook bespreek.
"Dit is van kardinale belang dat elke lid van ons veiligheidstrukture voldoende voorbereid is om enige gebeurlikheid wat hom- of haarself, of hul geliefdes of eiendom bedreig, die hoof te bied. Goeie opleiding gee jou die nodige selfvertroue om gevaarlike situasies te hanteer," sê Crous.
"Die uitdagings op die gebied van veiligheid raak daagliks meer. Gemeenskappe kan nie meer wag dat instellings soos die polisie of sekuriteitsmaatskappye alleen die stryd teen misdaad voer nie. AfriForum is trots op ons veiligheidstrukture van die Hessequa-tak en die lede wat toegewyd hul kant bring. Daar is nooit 'n beter tyd as nóú om betrokke te raak om jou omgewing en gemeenskap te beveilig nie," sê Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.
Raak vandag nog betrokke: SMS "Hessekwa" na 45342 (R1).
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'