HESSEQUA NUUS - Die ses sekondêre skole in die Hessequa-streek dra trots by tot die aanvegbare nasionale slaagsyfer van matrikulante wat verlede jaar die nasionale NNS-eksamen (nasionale seniorsertifikaat) geskryf en daarin presteer het.
Die amptelike nasionale slaagsyfer is volgens Angie Motshekga, minister van onderwys, 82,9%. Onderwys-ontleders wys egter uit dat dié syfer misleidend is, aangesien sowat die helfte van die leerders wat twaalf jaar terug in graad een vir onderrig aangemeld het nié hul skoolloopbaan voltooi het nie.
Die skole in die Hessequa-streek het die uitdagings wat Covid 19, ontwrigtende beurtkrag en alomteenwoordige sosiale euwels en sosio-ekonomiese ongelykhede ontketen het, met dapper durf besweer en na triomfantelike welslae gestreef.
Vier van die streek se skole het ‘n 100%-slaagsyfer behaal: Hoërskool Langenhoven, Hoër Landbouskool Oakdale (albei in Riversdal), Hoërskool Heidelberg en Albertinia Hoër.
Die skole Kairos Sekondêr (Heidelberg) se slaagsyfer is 97,9% en Gerrit du Plessis Sekondêr (Riversdal) voeg 83,6% aan die statistiek toe.
Verskeie onderwys-kommentators en kundiges meen egter die fanfare rondom vanjaar se uitslae moet bevraagteken word. Dit bly bedenklik dat leerders in party vakke slegs 33,3% nodig het om te slaag.
Dit is kommerwekkend dat leerders ‘n nasionale senior-onderwyssertifikaat kan verwerf met slegs ‘n derde van die kennis wat hulle in twaalf jaar op skool opgedoen het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’