ALBERTINIA NUUS - Boy van Rensburg, 'n legende in Hessequa en mede-eienaar van die Engen-garage in Albertinia, het op Donderdag 22 Februarie sy stryd teen kanker verloor.
Boy was inderdaad 'n held en ook 'n pa vir baie in die dorp. Tot op sy einde het Boy almal probeer help waar hy kan en insette gegee op elke taak wat hy aangepak het.
Dennis Karelse, skoolhoof by Hoërskool Albertinia, sê dis met 'n diep hartseer dat Hoërskool Albertinia en die breë skoolgemeenskap hul innige medelye wil betuig oor die verlies van 'n gesiene en gerespekteerde lid van ons gemeenskap.
"Woorde ontbreek in hierdie moeilike tyd, maar ons hoop dat julle troos kan put uit die liefde en herinneringe wat die lewe van Boy Janse van Rensburg gekenmerk het.
"Die impak van sy afsterwe sal sonder twyfel gevoel word deur almal wat die voorreg gehad het om hom te ken. Ek hoop dat julle krag en steun kan put uit die gemeenskap wat saam staan in hierdie tyd van rou. Ons deel in julle smart en wil julle herinner dat ons hier is om julle te ondersteun.
"As woorde van bemoediging tekort skiet, mag die herinneringe aan die goeie oomblikke wat gedeel is, troos bring. Mag die liefde van familie en vriende 'n anker wees te midde van die storm van verlies. Ons wens julle sterkte toe in hierdie tyd van rou en mag die nalatenskap van Boy Janse van Rensburg voortleef in die harte van almal wat hom geken het."
Boy se begrafnis is op Maandag 26 Februarie om 11:00 by die NG Kerk in Albertinia.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’