Update
HEIDELBERG NUUS - Werke van die kinder-kunskompetisie, wat as deel van Hessequa Harmonie vir leerders uit Hessequa aangebied is, sal van Dinsdag 19 September tot Vrydag 22 September in Heidelberg-biblioteek ten toon gestel word.
Die tema van die kinderskunkompetisie was, Hou die pot aan die kook.
Die Hessequa Harmonie begin ook aanstaande Dinsdag in dié dorp en duur tot Vrydag 22 September.
Dié kunsfees bied weer musiek uit die boonste rakke, kunstentoonstellings, boekbesprekings, toneelkuns, 'n kosdemon-strasie, heerlike wyne om te proe en selfs kunswerksessies.
Hessequa Harmonie is 'n fokusfees met klassieke musiek as vertrekpunt en 'n fyn uitgesoekte program van woordkuns en teaterervaring om kuns van hoogstaande gehalte toeganklik te maak op die platteland.
Niël Rademan, 'n trotse boorling van Heidelberg en die fees se uitvoerende hoof, sê hulle is opgewonde om groot name van die land se musiek-, teater- en boekekringe by vanjaar se fees te verwelkom en die pragtige dorp en omgewing as verhoog te gebruik om mense deur middel van musiek en kuns saam te bring en te inspireer.
Robyn MInnie
Die fees bring nie net ervare en gevierde skrywers en kunstenaars na die Suid-Kaap nie, maar bied ook 'n uitsonderlike geleentheid om plaaslike talent te ontgin en ten toon te stel.
Met die ondersteuning van onder andere die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport en die Hessequa-munisipaliteit, word daar geleenthede geskep waar inwoners van die streek kan deelneem aan kunsaktiwiteite en 'n spesiale uitvoering, die ATKV-galakonsert, wat Vrydag 22 September in die NGK-gebou gehou word.
Daar is ook weer gratis aanbiedinge om kuns en musiek onder kinders te bevorder. RAN se prestige marimbaorkes gaan weer aan die fees deelneem. 'n Marimba Makietie word Vrydag 22 September om 13:00 gratis by Hoërskool Heidelberg aangebied.
Besoek hessequaharmonie.co.za vir meer inligting en die volle program.
Kaartjies is aanlyn beskikbaar by webtickets.co.za of kan kontant gekoop word by Karee Tree in Heidelberg.
Mia van der Merwe
Deniquin Esau
Ju-Anne Kannemeyer
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’