HESSEQUA NUUS - 'n Werkgroep bestaande uit lede van die gesondheid-, rampbestuur- en veiligheidsektore in die Hessequa-streek is in die lewe geroep om maatreëls teen die koronavirus (Covid-19) plaaslik toe te pas.
Munisipale bestuurder Johan Jacobs het inwoners in 'n mediaverklaring verseker alles moontlik word gedoen om te keer dat die virus in die gebied versprei.
Dié werkgroep sal toesien dat alle bepalings wat deur die nasionale en provinsiale regerings ingestel word, nagekom word. Daarmee saam is 'n gesamentlike bedryfsentrum wat uit verteenwoordigers van al die munisipale departemente bestaan gestig.
Jacobs benadruk dat gesondheid nie 'n mandaat van die plaaslike munisipaliteit is nie en hulle volg die Garden Route-distriksmunisipaliteit en die Wes-Kaap gesondheidsdepartement se leiding in die verband.
Hy het inwoners bedank vir alle voorkomende optrede tot dusver. Munisipale dienste gaan voort soos normaal en Jacobs sê inwoners sal oor alle ontwikkelinge op hoogte gehou word.
'Ons bring jou die nuuste Hessequa nuus'