Die spog geleentheid is gehou in Johannesburg en het die uitvoerende burgemeester van Hessequa, raadslid Emor Nel en munisipale bestuurder, mnr. Johan Jacobs die geleentheid bygewoon.
Die kompetisie bestaan uit tien kategorieë en was die wenners in die ander kategorieë almal groot maatskappye soos Absa en Samsung. Die kettinggroep, Pick en Pay het as wenner weggestap in die kategorie waarin Hessequa ook ‘n finalis was. Hessequa is gevolglik tweede aangesien slegs die wenners en tweede plek finaliste genooi is na die toekennings-geleentheid.
Slegs Hessequa Munisipaliteit en Tswane munisipaliteit was onder die finaliste en dit op sigself is ook ‘n baie groot prestasie waar die mededingers meestal privaatsektor instansies was. Volgens die burgemeester het hulle ongelooflike goeie kontakte opgebou, veral met oorsese kundiges rakende alternatiewe energie en hoop hulle dat suksesvolle projekte hieruit sal voortspruit.
Hessequa se groen denke:
Energie besparing is deel van Hessequa se groen visie en is daar reeds ‘n paar suksesvolle inisiatiewe in die streek, soos die 33kw sonplaas buite Riversdal wat sedert 15 November 2011 groen sonkrag opwek vir Hessequa wat direk ingevoer word in die Nasionale kragrooster.Hierdie projek het ook van die Hessequa die eerste munisipaliteit in SuidAfrika gemaak wat die stap geneem het as onafhanklike energie verskaffer.
Die projek het ook getoon hoe ernstig Hessequa die uitdaging sien om klimaatsverandering aan te spreek. Die projek is tans ‘n 33KW sonplaas, maar kan uitgebrei word tot ‘n 5MW projek. Die munisipaliteit besit die sonplaas wat grootliks befonds word deur die departement van energie. Hessequa se groen sonprojek vorm deel van die Onafhanlike Energie Vervaardigings Entiteit (IPP) wat in 2007 gestig is deur die Hessequa munisipaliteit met die doel om saam met vennote uit die privaat sektor hernubare energie in Hessequa op munisipale grond op te wek.
Groen prestasies:
Hessequa het op 6 Oktober 2011 ‘n trofee ontvang vir beste prestasie in energie besparing en bewaring in die departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning se groenste munisipaliteit kompetisie. Hessequa het in 2007 voortgebou op hul groen inisiatiewe deur die installasie van lading kontrole meters in alle huise, die vervanging van gloeilampe met energie besparende gloeilampe in huise, strate asook sportfasiliteite asook die installasie van son-geysers by alle munisipale kampplekke.
Erkenning is ook gegee aan die span munisipale amptenare wat die ou Riversdal kragstasie en vier antieke diesel kragopwekkers, wat meer as 60 jaar reeds krag opwek, onderhou.
Die kragstasie en diesel kragopwekkers dien bystand krag in tye van nood in Riversdal. Hessequa was ook die eerste munisipaliteit wat son-geysers ge-installeer het by lae-koste behuiding. Hessequa het ook ESKOM se mikpunt om 10% energie te bespaar verbeter deur 23.2% energie te bespaar. Die munisipaliteit het onderneem om teen 2020 ‘n zero vermorsing gemeenskap te wees en is twee asgate reeds gesluit en word herwinning suksesvol toegepas. Die munisipaliteit herwin ongeveer 1.5 miljoen kilogram vullis per jaar. Daar is hierdeur 42 werksgeleenthede geskep en is 1.500 ton vullis van asgate verwyder en word 27% afval herwin.
Uitdagings:
Hessequa staar nog die uitdaging in die gesig om nat en kommersiële afval te bestuur en is oplossing om die afval heeltemal uit te skakel reeds ondersoek. Dit sluit in ‘n biogas aanleg wat gebou word by Riversdal se rioolwerke wat ook energie sal kan opwek met oortollige krag wat ook in die nasionale kragrooster ingevoer sal word.
Daar is ook ‘n projek waar elke huis in Melkhoutfontein buite Stilbaai ‘n huishoudelike kompos eenheid gaan ontvang waar nat afvalmateriaal omgesit word in kompos wat weer aangewend sal word vir ‘n voedsel sekuriteit program wat ondersteun word deur die departement van landbou.
Memorandum van Ooreenkoms met Stellenbosch Universiteit:
Die Hessequa munisipaliteit het op 5 Desember verlede jaar ‘n Memorandum van Ooreenkoms gesluit met die Universiteit van Stellenbosch. Die eerste projek behels juis ‘n volle energie oudit van die Hessequa munisipaliteit.
Onafhanklike energie entiteit (IPP):
Die Hessequa raad het ‘n IPP(independant power producer-entiteit) gevestig in lyn met die vorige REFIT program se vereistes om te kan tender vir die verskaffing van energie. Die REFIT was gebasseer op fasgestelde tarriewe vir die lewering van krag en was ‘n program wat deur NERSA bestuur is. In Hessequa het onmiddelik met hul strategie begin om deel te neem aan die program en is 'n verskeidenheid projekte deur middel van ‘n oop proses vir insette geidentifiseer en die IPP is in 2008 gevestig.
Die doel was om ‘n verskeidenheid hernubare projekte te identifiseer wat saam met venote gevestig kan word en wat geskik sou wees om op raads grond te vestig om derhalwe die visie om teen 2020 energie en koolstof neutraal te wees te bewerkstellig. Die raad se onderneming is dus om grond beskikbaar te stel en ondersteuning te verleen met aansluitings en ander prosesse soos nodig. Die projekte sal dus geen finansiële las op die belastingbetaler plaas nie.

Die uitvoerende burgemeester van Hessequa, raadslid Emor Nel en die munisipale bestuurder, Johan Jacobs.
ARTIKEL: LOUISE MOUTON, SUID-KAAP FORUM-JOERNALIS