HEIDELBERG NUUS - Vanjaar se Mandeladagvieringe op Heidelberg en Slangrivier het redelik stil verloop, waarskynlik as gevolg van die Covid-19-pandemie.
Op Heidelberg het die plaaslike Covid-19-taakspan, onder leiding van Vennito van Niekerk gekookte kos aan inwoners uitgedeel.
Dit is op verskeie punte in die Oos-Dorp, wat Joe Slovo Park, Diepkloof, Dollar Square en ander informele buurte insluit, gedoen.
Die plaaslike polisie het weer 'n operasie van stapel gestuur waartydens alle lede wat met verlof is of af dae gehad het, ingespan is om bewusmaking aangaande die Covid-19-regulasies deur die hele streek te kweek. Dit is onder die vaandel, Men For Change, aangepak.
Volgens kapt Mervyn Zana is besluit om meer sigbaar te wees om sodoende alle inwoners teen die verbreking van die inperkingsregulasies te waarsku. "Ons is bekommerd oor inwoners se traak-my-nie-agtige houding ten opsigte van die dra van maskers," het hy gesê. Winkeleienaars en -bestuur is ook gewaarsku dat die polisie streng teen hulle sal optree indien hulle nie by die regulasies hou nie.
Vennito van Niekerk, Michael Williams, Caroline Klim (vrywilliger kok) en Abe Daniels by een van die punte in Mandelastraat. Foto's: Clive Pretorius
Kaptein Mervyn Zana spreek die lede toe voor hulle op hul bewusmakingsroete gaan.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'