Dié fondsinsamelingsgeleentheid deur Heidelberg Kushengelklub het Saterdag 15 Julie by die plaaslike skousaal plaasgevind. Na die jaar se hengel is dit dan ook 'n geleentheid vir hul prysuitdeling. Die klub bestaan uit 35 lede en hoewel hulle 'n bietjie aan die diep kant ingegooi is, kon hulle steeds kop bo water hou met belangstelling van so ver as Kaapstad.
Sewe skape is gespit en bykosse om van te kies en te keur is voorgesit om 'n smaaklike ete te verseker.
Volgens Neil Rall (voorsitter) word alles omtrent die dans deur die lede self en hul ander helftes gedoen. "Dit behels alles, regdeur van die saal se skoonmaak en opmaak voor en na die tyd, asook die spitbraai en slaaie. Ek wil net dankie sê vir die mense wat ons dans ondersteun en help dat dit elke jaar 'n sukses is." (Aletta Sutherland, korrespondent).