STILBAAI NUUS - Helpende Hand soek vrywilligers om hulle te help om die lewens van die talle weerloses in die gemeenskap te verbeter.
Hulle het Stilbaai op Maandag 27 Maart besoek om met plaaslike rolspelers te gesels oor die behoeftes en kwessies in Stilbaai en omgewing.
Marlise Labuschagne, Wes-Kaapse assistent-streekorganiseerder, het onder andere Laerskool Bertie Barnard besoek om hulle meer te vertel van die HelpHetta Tienermeisies-projek in die Wes-Kaap.
Drieduisend skoolgaande meisies se lewens kom elke maand vir vyf dae tot stilstand omdat hulle huishoudings nie sanitêre ware kan bekostig nie. Die HelpHetta-projek versprei sanitêre ware en ander noodsaaklike higiëniese produkte aan hierdie meisies op 'n kwartaallikse basis.
Helpende Hand se motorfietstak gaan op 22 April by die Brugmark wees om 'n HelpHetta sanitêre ware en toiletware insameling te hou vir die groot behoefte in die Wes-Kaap streek.
Jy kan ook betrokke raak deur op dié dag 'n skenking te maak.
Hulle het hulle besoek aan Stilbaai afgesluit by die Ons Winkel oorkant Vodacom met 'n praatjie deur Marlise, waar sy meer uitgebrei het oor die groot nood in die gemeenskap en hoe elkeen in Stilbaai betrokke kan raak.
As jy nie deel van Helpende Hand kan of wil word nie kan jy nog steeds sanitêre ware vir skoolgaande meisies by Ons Winkel afgee. Hulle vat ook klere wat jy nie meer gebruik nie en verkoop dit dan om geld in te samel vir hulle talle projekte.
Anna-Marie Hughes, eienaar van die winkels in Stilbaai, Riversdal en Heidelberg het van haar kant die gemeenskap bedank vir hulle skenkings en sy het gesê dat Ons Winkel in Stilbaai baie goed doen. Marlise beklemtoon dat alles wat 'n tak invorder word in daardie gebied aangewend.
Indien jy wil aansluit by Helpende Hand kan jy dit elektronies doen. Onthou om aan te dui dat die agent Marlise Labuschagne is en die area is Stilbaai of die dorp wat jy verkies.
Andersins kan jy Marlise skakel by 071 390 7766 vir meer inligting.
Marlise Labuschagne saam met Zandra Swanepoel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’