RIVERSDAL NUUS - Talle mense gebruik die nuwe jaar as geleentheid om met 'n 'skoon bladsy' weg te spring deur kaste skoon te maak en van items wat nie meer gebruik word nie, ontslae te raak.
Met Solidariteit Helpende Hand se landswye skenkingswinkels, nou genaamd 'Ons Winkels', is dié takie soveel makliker.
Riversdal se skenkingswinkel spog deesdae met 'n nuwe baadjie en die 'Ons Winkel'-korporatiewe identiteit. Barbara Erasmus staan aan die stuur van sake by dié winkel.
"Ons sien baie daarna uit om 'n verskil in die direkte gemeenskap te maak en ons verwelkom alle inwoners met ope arms," sê Erasmus.
Enigiets kan daar afgegee word, van 'n stukkende grassnyer, linne tot klere wat nie meer pas nie. Die bank of bed in die stoorkamer wat nou stof opgaar en die oefenfiets wat jy in 2001 laas in die soeke na jou somerlyf aangewend het - dit alles kan in 'n japtrap verwyder word en terselfdertyd behoeftige gesinne help.
Helpende Hand het altesaam 37 winkels landswyd, wat voorheen net as algemene skenkingswinkels bekendgestaan het. Met 'n heenkome vir alles wat in die pad staan, maak dié winkels dit maklik om alles wat oorbodig is uit die pad uit te kry.
Wat gebeur met die tweedehandse ware wat geskenk word? Alles word vir 'n goeie doel in die gemeenskap teruggeploeg.
Alet Robbeson, hoof operasionele bestuurder van 'Ons Winkels', is pas by Helpende Hand in haar pos aangestel om 'n wakende oog oor al die winkels se bedrywighede te hou. "Die landswye winkels skep nie net werk vir die persoon wat die winkel bestuur nie, maar ook vir winkelassistente uit die gemeenskap. Uit die opbrengste van die verkope wat uit die skenkings gemaak word, stel ons onder meer studiefondse beskikbaar vir studente wat kwalifiseer om verder te gaan studeer, maar dit nie kan bekostig nie. Vele maatskaplike kwessies kry ook met winste of geskenkte voorraad aandag," het Robbeson bygevoeg.
"Saam kan ons almal 'n groot verskil in die gemeenskap maak. Stap bloot net by die winkel in en koop of skenk iets. Dit is so maklik soos dit."
Indien daar behoefte of die nodige hulpbronne is, kan van die winkelbestuurders reël dat 'n vrag skenkings by die perseel opgelaai word.
Vir meer inligting skakel Barbara Erasmus by 071 583 8099.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'