HEIDELBERG NUUS - Lede van die plaaslike polisie, onder leiding van sersante Immorgene Hendricks en Danwill Josephs, het Donderdag 27 Junie 30 jeugdiges met 'n heerlike ete in die hotel bederf.
Vader Chassley Fredericks van St. Barnabas Anglikaanse Kerk, het die verrigtinge met gebed geopen. Konst. Darryl Appel het die aanwesiges met 'n lied bemoedig en Vennito van Niekerk, plaaslike opvoeder en jeugleier, het hulle daaraan herinner dat hulle elke geleentheid wat na hulle kant toe kom, moet aangryp.
Hy het hulle ook aangemoedig om hul drome na te jaag, met verwysing na Michael Atkins, 'n Amerikaner wat as skoolopsigter gewerk het, maar hom as opvoeder bekwaam het en nou 'n skoolhoof is.
"Jou huidige omstandighede - al lyk dit hoe donker - kan nie jou toekoms bepaal nie," het hy benadruk.
Josephs het hulle op sy beurt aangemoedig om die regte keuses in die lewe te maak. Josephs en Van Niekerk het die jeugdiges gemaan om nie by dwelm- en drankmisbruik betrokke te raak nie. "Moenie eens probeer om daarmee te eksperimenteer nie."
Voor, van links: Konst. Darryl Appel, Magrieta Pieters, vader Chassley Fredericks en Vennito van Niekerk. Agter: Sers. Immorgene Hendricks. Foto: Clive Pretorius, korrespondent
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'