HEIDELBERG NUUS - Die stadsaal was Maandagmiddag 28 Augustus stampvol roubeklaers, waaronder die grootste deel van buite die dorp, om 'n gedenkdiens ter ere van die ontslape landdros, Michael Delport (54) by te woon.
Ongeveer 50 regslui, waaronder landdroste, staatsaanklaers, advokate en prokureurs vanoor die Eden-distrik, Worcester en Kaapstad het hul laaste eer aan hul kollega kom betoon. Die gedenkdiens is voorafgegaan met 'n 'laaste hofsitting' in die hofsaal.
Die diensverrigting is deur Carl van Wyk, 'n boer van Swellendam en jare lange vriend van Delport behartig. Hy het gesê dat die verrigtinge nie 'n roudiens is nie, maar wel om Delport se lewe te vier, omdat "...hy dit so sou wou hê."
Volgens Van Wyk was hulle diep intellektueel met mekaar verbind. "Michael was altyd stiptelik, in teenstelling met myself. Dit was een van sy sterk punte."
Verder het Van Wyk aan veral sy kinders gesê dat hulle pa altyd net mooi wou maak, vandaar die 'M' in hul name. "Mika en Michael, maak mooi, nie net reg nie, want dit is soos jul pa dit altyd wou doen." Delport het geglo dat as jy seermaak, kom daardie sambok weer na jou terug.
Ter afsluiting het hy genoem dat Delport graag 'n Franse brood voor die Eiffeltoring wou breek, maar om een of ander rede dit nooit gedoen het nie." Die les vir ons almal is dat wanneer jy iets wil doen, moet jy dit doen, moenie dit uitstel nie."
Tydens haar hartroerende afskeidsboodskap het Mika na Prediker 3 verwys en gesê dat sy haar pa altyd met soveel hoop gegroet het omdat sy geweet het sy gaan hom binnekort weer sien. "Maar hierdie keer is dit anders, dit is finaal," het sy huilend gesê. Sy het ook na haar pa se groot liefde vir sy musiek verwys en, "Pa was die beste en liefdevolste pappa.
"Alles wat pappa gedoen het, was vir ons twee."
Brian de la Harpe, Delport se buurman vir die afgelope 18 jaar, het tydens sy kort huldeblyk gesê dat hy ontsettend sag was, hoewel hy altyd regverdig in veral sy werk opgetree het.
"Hy het van sy werk gehou, maar wou ook nie lewens vernietig nie."
Buiten sy twee kinders, het hul ma, Esmerelde, sy twee broers, Martin en Robert Delport, asook hul families die verrigtinge bygewoon.
ARTIKEL: CLIVE PRETORIUS, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'