HEIDELBERG NUUS - 'n Familie van dié dorp kan dalk nou berusting vind nadat hul geliefde pa, broer en oom se oorskot positief uitgeken is na byna vier jaar se onsekerheid oor waar hy hom bevind.
Hoewel DNA-toetse nog nie gedoen is nie, is die familie se ergste vrees Vrydag 22 Februarie bewaarheid toe Anna September, suster van Oktober foto's van hul geliefde se klere, wat hy tydens sy verdwyning aangehad het, by die forensiese patologiese dienste op Riversdal dit positief identifiseer.
Een van vier werkers wat Donderdagmiddag 31 Januarie indringerbome langs die Goukourivier op Soetmelksrivier buite Riversdal afgesaag het, het eers op 'n skedel en daarna op beendere, nog in 'n baadjie en hemp gekleed, afgekom.
Hoewel hulle nog baie vrae het, noem Lee-Ann Hartzenberg, enigste dogter van Oktober dat hulle uiteindelik berusting kan vind omdat hulle nie meer hoef te wonder of hy nog lewe nie. Vrae soos wanneer en hoe hy gesterf het. Sy het egter haar misnoeë uitgespreek omdat geen DNA-toetse op haar pa se beendere gedoen was nie.
September het aan Suid-Kaap Forum gesê dat sy en haar man Johannes, wat sowat 'n maand gelede afgesterf het, al baie leidrade die afgelope drie jaar en sewe maande wat haar broer vermis is, opgevolg het. Hulle het oral in die Hessequa-streek, asook in omliggende dorpe sover as George, Mosselbaai, Swellendam en Ladismith gaan soek, maar was daar geen spoor van hom nie. "Ons het verskeie kere by die hospitale, die polisiestasie en by al die bekende uithangplekke sover as Kwanokuthula na hom gaan soek, maar sonder sukses."
Intussen doen die familie beroep op enigiemand wat hulle geldelik kan bystaan om Hartzenberg by 074 584 9964 of haar niggie, Laetitia Rossouw by 076 956 2037 te skakel.
Oktober laat ook twee kleinkinders agter.
Lees 'n verwante artikel hier: Geraamte dalk vermiste persoon
Van links is Laeitia Rossouw, Lee-Ann Hartzenberg en Anna September. Foto: Clive Pretorius, korrespondent
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'