RIVERSDAL NUUS - 'n Visekanseliersmedalje vir smart graduation is aan 'n oud-Riversdaller, Marshellé Vermaak met haar gradeplegtigheid in Junie toegeken.
Volgens Vermaak was dit 'n groot eer om die visekanseliersmedalje na vier jaar se harde werk te ontvang.
"Ek is ook dankbaar vir die ondersteuning wat ek van die lektore, medestudente en my familie gedurende die tyd ontvang het. Sonder hulle sou dit nie vir my moontlik gewees het om die toekenning te verwerf nie. Alle eer ook aan my hemelse Vader wat my tot hier gedra het."
Haar laerskoolloopbaan het by Laerskool Volschenk begin en in 2007 matrikuleer sy by Hoërskool Langenhoven met sewe onderskeidings. Haar ouers, Louis en Betsie Vermaak, asook twee broers, SP en Albert bly nog in Riversdal.
In 2008 begin sy by die Universiteit van Stellenbosch studeer en sy voltooi die BSc Molekulêre Biologie en Biotegnologiegraad cum laude in 2010. In 2011 behaal sy haar BSc Honeursgraad in Genetika en in 2012 die nagraadse onderwyssertifikaat, cum laude.
"My onderwysloopbaan het by Hoërskool Albertinia begin waar ek lewenswetenskap en wiskunde geletterdheid vanaf 2013 tot 2016 gegee het. In 2017 begin ek weer studeer, maar die keer by die Kaapse Skiereiland Universiteit en voltooi die BSc Diagnostiese Ultraklank-graad in 2020, summa cum laude. Dit is tydens dié gradeplegtigheid wat die visekanseliersmedalje aan my toegeken word." Haar raad aan ander studente is dat dit belangrik is om elke dag jou deel te doen, maar ook om te weet wanneer om vir hulp te vra en op ander se ondersteuning staat te maak. "Harde werk, toewyding en deursettingsvermoë is 'n goeie beginpunt om jou einddoel te behaal. Maar sonder die ondersteuning van my familie, vriende en dosente sou ek nie die toekenning verwerf het nie."
Vermaak is tans besig met haar gemeenskapsjaar by Swellendam-hospitaal. "Ek is baie gelukkig in my nuwe beroep en het geen toekomsplanne om weer van beroep te verander nie. Elke dag is vir my 'n nuwe uitdaging om te probeer vasstel wat ek sien en hoe dit bydra tot 'n pasiënt se diagnose.
"Ek het nog altyd 'n passie gehad vir die mediese veld en geniet dit om die eyes into the human body te wees."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'