RIVERSDAL NUUS - Hessequa-munisipaliteit het sy begroting vir die boekjaar 2023-'24 goedgekeur. Dit beloop ongeveer R728 miljoen.
Albert de Klerk, munisipale bestuurder, sê die begroting was besonder moeilik in die huidige ekonomiese omstandighede, maar dis 'n gebalanseerde begroting met 'n fokus op volhoubaarheid en dienslewering aan die gemeenskap van Hessequa.
Alle tariewe, elektrisiteit uitgesluit, styg met minder as inflasie. Die raad het besteding aan herstel en onderhoud geprioritiseer om te verseker dat volhoubare dienste gelewer kan word. Die begroting hiervoor beloop sowat R108 miljoen.
Die volgende tariefstygings word vanaf 1 Julie geïmplementeer:
- Water: 6,5%
- Riool: 6,5%
- Vullisverwydering: 6,5%
- Eiendomsbelasting: 6,5%
Hessequa gaan sy elektrisiteitstariewe met gemiddeld 14,44% verhoog.
Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) het aanbeveel dat munisipaliteite hul kragtariewe vanjaar met 15,1% mag verhoog.
Dit volg op Eskom se tariefverhoging van 18,49% wat reeds op 1 April vir Eskom se regstreekse kliënte in werking getree het.
Nersa se voorgestelde verhoging is steeds 'n slag vir verbruikers vanweë die hoë rentekoerse. Maar daar is niks wat munisipaliteite daaraan kan doen nie.
Vir enigeen met 'n keuse maak dit Eskom se krag al hoe minder aantreklik en sal alternatiewe opsies soos sonkrag en batterye 'n oplossing vir al hoe meer huishoudings word.
De Klerk sê in 'n poging om die armstes van die armes te ondersteun, styg die tariewe vir 51-350 kWh per maand met 10,31%. Dit is 37c per eenheid (18,72%) minder as die van ander residensiële verbruikers.
"Beurtkrag het 'n groot invloed op die raad se elektrisiteitsinkomste, sowel as op die uitgawe-begroting waar, onder andere, dieselonkoste geweldig gestyg het as gevolg van kragopwekkers wat in gebruik gestel moes word om noodsaaklike dienste te laat voortgaan.
"Voorgenoemde het tot gevolg dat die raad se netto winspersentasie vir elektrisiteit drasties afgeneem het," sê De Klerk.
Nersa se riglyne bepaal dat munisipaliteite se netto winspersentasie tussen 10 - 20% moet wees, om te verseker dat die diens volhoubaar en doeltreffend gelewer kan word. "Hessequa-munisipaliteit se netto winspersentasie is minder as 10%."
Die raad het twee tariewe vir enkelfase-voorafbetaalde 21 - 32 ampere stroombrekers naamlik:
n Enkelfase - alternatiewe tarief: Hierdie tarief het geen basiese (vaste) fooie maandeliks nie, maar die kWh (eenheidskoste) is duurder omdat daar nie 'n basiese (vaste) fooi per maand gehef word nie.
n Enkelfase - huishoudelike tarief: Hierdie tarief het 'n basiese (vaste) fooi wat maandeliks gehef word, maar die kWh (eenheidskoste) is goedkoper as die van die alternatiewe tarief.
Die begroting wat op 1 Julie geïmplementeer word, maak voorsiening dat verbruikers wie se eiendomswaarde meer as R850 000 is, nie meer die opsie gaan hê om gekoppel te word aan die "enkelfase - alternatiewe tarief" nie.
Daar is tans 3 232 verbruikers op hierdie enkelfase - alternatiewe tarief" waarvan ongeveer 1 372 na die "Enkelfase - huishoudelike tarief" oorgeskuif gaan word.
Dis om te verseker die raad is in staat is om al sy vaste koste (kostes wat aangegaan moet word ongeag of daar enige eenhede verkoop word) te verhaal.
Alle elektriese tariewe in die begroting is onderworpe aan Nersa se goedkeuring.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’