Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Goukam Health APD het onlangs 'n skenking van R120 000 ontvang.
By dié sentrum in Langstraat word na pasiënte wat uit die hospitaal ontslaan is, asook pasiënte wat gewoonlik tuis deur familie versorg word, omgesien.
Dr. Alison Madden, 'n opvoedkundige-, neuro- en kliniese sielkundige wat in Kaapstad gebaseer is, het Goukam Health in 2011 gestig en by die Association for Persons with Disabilities (APD) aangesluit.
"Die hoofdoel was om pasiënte wat in motorongelukke 'n breinbesering opgedoen het, te rehabiliteer en vir hulle sekere vaardighede aan te leer sodat hulle weer hul regmatige plek in die gemeenskap kan volstaan," sê Illze Olivier, bestuurder van Goukam Health.
In 2014 het die bestuur by die departement maatskaplike ontwikkeling (DSD) om finansiering aansoek gedoen en daarmee 'n step down-diens begin. Pasiënte wat pas uit die hospitaal ontslaan is, word drie weke lank hier versorg. Pasiënte wat tuis versorg word, kan ook hier vertoef om die familie 'n ruskansie te gee.
Die meeste van die pasiënte het beroerte gehad of 'n heup- of knievervanging ondergaan. "Van hulle het net versorging nodig omdat hulle verswak is," sê Olivier. Tot 12 pasiënte kan gehuisves word. Hulle ontvang drie maaltye per dag en daar is 24-uur versorging. "Ons bied nie 'n intensiewe rehabilitasiediens aan nie, maar 'n fisioterapeut skryf 'n oefenprogram voor en die versorgers help die pasiënte daarmee."
'n Werkswinkel op die perseel waar die inwoners en gestremde dagpasiënte handvaardighede kan aanleer, word ook bedryf. "Ons het dringend vrywilligers nodig wat kan help om handvaardighede soos houtwerk, lapverf, mosaïek en naald- en breiwerk oor te dra."
Van die handwerk, groente uit die tuin en hoendereiers van 'n boerderytjie wat deur inwoner Mark Rodrigues bedryf word, word verkoop om fondse aan te vul.
Kyk 'n video hieronder:
Finansiering vanaf DSD is tydens die 2019-boekjaar met tweederdes ingekort en daarom is Goukam Health APD genoodsaak om 'n tarief vir die versorgingsdiens te hef.
Goukam Health APD steun ook op skenkings. Simpson Prokureurs in Bellville het onlangse 'n tjek van R120 000 aan Madden oorhandig. Hulle reël ook 'n fondsinsamelings-gholfdag by die Bellville-gholfklub op Vrydag 20 September. Stuur 'n epos aan charl@echovine.co.za vir meer besonderhede hieroor.
Simpsons Prokureurs van Bellville het onlangs ’n tjek aan dr Alison Madden van Goukam Health oorhandig. Van links: Simpson se direkteure Collette Julyan, dr. Madden, Willie Simpson en Tamlyn Melville.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'