HEIDELBERG NUUS - Die begrafnisdiens van die ontslape gemeenskaps-aktivis en wyksraadslid, Thomas Pretorius, is verlede week met verskeie gedenkdienste in dié dorp, sowel as Slangrivier en Riversdal voorafgegaan.
Tydens die gedenkdiens op Slangrivier Dinsdagaand,12 Februarie, het verskeie plaaslike leiers hulde aan Pretorius gebring, Woensdagoggend het die Hessequa-raad ook hulde aan die ontslape raadslid gebring en later die aand is 'n roudiens by St. Barnabas Anglikaanse Kerk gehou.
Cameron Dugmore, ANC Hessequa, lid van die provinsiale parlement, het Pretorius se rol as raadslid en gemeenskapsaktivis uitgestippel. Hy het die aanwesiges gevra om Pretorius se nalatenskap as gemeenskapsbouer van formaat te bewaar en uit te leef.
Donderdagaand het die ANC ook hulde gebring tydens hul gedenklesing in die Duivenhoks-gemeenskapsaal. Verskeie organisasies het hulde of boodskappe aan hom tydens die byna vier uur lange verrigtinge gebring. Nie eers die beurtkrag kon die gees van die nagenoeg 500 aanwesiges demper nie.
Annelene Hartnick, voormalige ANC-wyksraadslid, het die verwelkoming gedoen en rdl. James Gelderbloem het as seremoniemeester opgetree.
Venitto van Niekerk, Mervyn Joseph, ANC-takvoorsitter, het Pretorius as 'n toegewyde nasiebouer beskryf wat nie geskroom het om standpunt in te neem nie, al was dit teen sy eie leiers en organisasie.
Jovan Bruinders, ANC Victor Malosi, streekvoorsitter, het genoem dat die goeie opkoms die grootheid van Pretorius manifesteer. "Tom was soos Mervyn Joseph 'n inspirerende leier."
Tydens sy toespraak het Mark Nicholls, boesemvriend van die ontslapene, verwys na die dag wat Nelson Mandela die vryheid van Swellendam toegeken is, toe Pretorius sy weg na die groot ikoon gemaak het om net 'n handdruk te kry. "Dit het hy gekry en grappenderwys genoem dat hy nooit weer sy hand gaan was nie."
Michael Carelse, Kindersorg SA provinsiale voorsitter, het benadruk dat Pretorius tydens sy termyn as voorsitter van die plaaslike kindersorgtak, asook sy onlangse termyn as addisionele lid, hom beywer het om die lot van alle kinders te verbeter.
Shaun Byneveldt, ambassadeur vir Sirië en Lebanon wat as hoofspreker hulde gebring het, het sy medelye met die familie uitgespreek en hulle bedank dat hulle bereid was om Pretorius met die gemeenskap te deel. "Tom was 'n ware en getroue kampvegter vir sy volk en het daarna gestreef om die land te verenig vir al sy inwoners."
Vivian Prins, prinsipaal van Kairos Senior Sekondêr, het Spreuke 17 met Pretorius se lewenswyse vergelyk.
Volgens Prins was hy eerstens 'n getroue vriend wat baie vergewensgesind was en wat verhoudings eerste gestel het.
"Hy was 'n vertroueling wat 'n geheim kon bewaar het, maar hy was ook altyd vriendelik teenoor almal wat sy pad gekruis het. Tom was 'n goeie luisteraar, nooit selfsugtig nie en het altyd ander eerste gestel, voor homself."
’n Volgepakte saal om hulde te bring. Foto’s: Clive Pretorius, korrespondent'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'