MELKHOUTFONTEIN NUUS - Ruby Flores, skoolhoof van Melkhoutfontein Primêr, tree ná 37 jaar in die onderwys af. Haar laaste skooldag is op Donderdag 15 Desember.
Sy was die laaste 10 jaar skoolhoof by Melkhoutfontein Primêr en die 27 jaar voor dit by Gerrit du Plessis Sekondêr in Riversdal.
Melkhoutfontein Primêr het Woensdag 30 November op 'n roerende wyse van haar afskeid geneem en dit was baie duidelik dat sy 'n geliefde opvoeder en skoolhoof was. Leerders uit die verskillende grade het treffende boodskappies gelewer met die skoolkoor wat dit met pragtige liedere afgewissel het.
Belinda Wagenaar, 'n opvoeder by die skool en jare lange vriendin, het Ruby beskryf as 'n kranige tennisspeler op hoërskool wat vir haar eerlikheid, opregtheid en hardwerkendheid onthou sal word. Sy sê Ruby het 'n verskil kom maak by die skool en dat sy haar Gods rykste seën op haar pad vorentoe toewens.
Ruby vertel dat die tyd gevlieg het. "Dit voel soos gister wat ek by die skool aangekom het. Ek dank die Hemelse Vader dat ek vir so lank met sy kosbare wesens kon werk. In hierdie 37 jaar is daar letterlik duisende kinders deur my hande en hulle het my laat lag en ook vir baie opwinding gesorg."
Sy sê haar gesin het baie opgeoffer. "Die lang ure en tye weg van die huis was moeilik, maar hulle het dit alles verstaan en my al die pad ondersteun."
Ruby onthou nog haar openingstoespraak op 1 Februarie 2013. Sy het die kinders beskryf as God se kroonjuwele en sy het gehamer op die feit dat hulle hul drome moet uitleef. "Droom groot en leef dit."
Sy onthou die skool was omring met bosse en toe sy die kinders soek was hulle almal in die bos. Met haar tweede dag het sy die munisipaliteit gebel en gesê kom kap die bosse af, wat hulle toe gedoen het.
Sy het afgesluit met 'n paar gedagtes wat die leerders met hulle moet saamvat: "Die lewe is nie regverdig nie. Raak gewoond daaraan. Jy gaan nie onmiddellik ryk word na skool nie, jy moet werk daarvoor. As jy dink die onderwysers is moeilik, weet jy niks. Jy gaan vir iemand werk wat jou lewe baie moeiliker gaan maak. Wat jy op televisie sien, is nie die werklikheid nie. Wat is werklik? Staan op voor die televisie en gaan werk vir jou toekoms."
Sy het ook gesê die wêreld skuld jou niks nie. "Jy is belangrik en jy word iewers benodig. Eendag is nie eendag nie, dit is nou."
Ruby Flores luister na 'n paar afskeidsboodskappe van Melkhoutfontein-leerders.
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'