ALBERTINIA NUUS - 'n Mens-mens wat altyd 'n geselsie met almal wou aanknoop. Bemind deur almal en die vrolikheid vanself. Een van die dorp se juwele.
Maar skielik is sy stem stil. Die geliefde Anton van Rensburg is onverwags Woensdag 19 Oktober aan natuurlike oorsake oorlede. Hoewel hy geruime tyd met sy gesondheid gesukkel het, was hy steeds sy normale vriendelike self en sou hy niemand verbygegaan het sonder om te vra hoe dit gaan nie.
En altyd saam met hom was Seun, sy skaaphond sonder wie hy selde gesien is.
Dis sy vrolike geaardheid wat die inwoners van Albertinia waarskynlik die langste gaan onthou. Altyd belangstellend in ander se wel en weë en altyd tyd om oor iets te gesels.
Albertinia het een van sy blinkste sterre verloor. Die dorp deel hul innige meegevoel en vertroosting met sy agtergeblewe familie en groot vriendekring.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'