Update
MELKHOUTFONTEIN NUUS - Die son blyk nie meer so helder te skyn vir nagenoeg 60 kleuters en vyf van hul opvoeders by 'n plaaslike speelskool nadat daar by die Stilbaai-polisie twee aanklagte teen twee persone aanhangig gemaak is nie.
Volgens inligting word daar nou al 'n geruime tyd vermoed dat daar etlike duisende rande "verdwyn" het waaroor daar nie behoorlik verslag gegee kan word nie. Ná bewering word bykans R180 000 vermis en is daar nie redelike finansiële bewyse om die uitgawes te staaf nie.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, sê daar is by twee verskillende geleenthede klagtes aanhangig gemaak.
Die eerste klag was op 28 Mei teen 'n jong vrou en die tweede op 19 Junie teen 'n man en 'n vrou.
Albei het glo noue verbintenisse met die speelskool.
Spies sê 'n klag van diefstal word in die eerste aanklag teen die vrou ondersoek en 'n klag van bedrog in die tweede aanklag teen beide die man en vrou.
Volgens die voorsitter van die speelskool is daar besluit om die twee persone krimineel aan te kla aangesien daar al 'n geruime tyd vermoed word dat daar finansiële ongeruimdhede is.
Hy het ook verder genoem dat hulle as nuwe bestuur besluit het om die hulp van twee gemeenskapsaktiviste van Albertinia in te roep om met die kwessie te help.
Volgens Spies is beide aanklagte in 'n vroeë stadium. Die ondersoek duur voort.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’