Update Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - Saterdag 24 September was 'n feestelike dag by die Brugmark in Stilbaai toe Rebecca Johnson en haar dansgroep van Kwanokuthula in Riversdal die mense verras het met hulle pragtige geestelike liedjies en danspassies.
Daar was selfs 'n paar mense met trane in die oë wat spontaan donasies gaan neersit het. Iemand het later sy hoed gaan neersit vir die note toe die wind dreig om dit weg te waai.
Volgens Rebecca kon sy net eenvoudig nie meer anderpad kyk as die straat- en ander verwaarloosde kinders honger in die strate ronddwaal nie en het sy het met 'n voedingskema begin wat sy uit haar eie sak befonds.
Met die geestelike dansgroep het sy hulle nie net van die strate af gekry nie, maar slaag sy ook daarin om hulle weer 'n doel in die lewe te gee en hulle waardigheid te herstel. Daar is ook kinders wat sy van dagga af gekry het.
Die klein dansertjie in diep konsetrasie.
Rebecca het ook vir hulle gesê dat hulle moet werk vir hulle geld en optredes soos hierdie bring donasies in. Hulle is reeds genooi om by 'n kerk en 'n skou op te tree.
Volgens Antoinette van Wyk van die Brugmark wou Rebecca baie graag T-hemde maak vir elke kind en met die donasies wat hulle Saterdag gekry het, kan sy nou hierdie droom bewaarheid.
Stilbaai-sakekamer rig 'n groot dankie aan die Brugmark-familie en -vriende wat hul harte en beursies vir die Spiritual Dansers van Riversdal oopgemaak het. Hulle sê ook baie dankie aan Grant Riddles, uitvoerende burgemeester van Hessequa-munisipaliteit, en wyksraadslid Renée Davids dat hulle tyd ingeruim het om die dansgroepie te kom ondersteun.
VIDEO: Geestelike danser by Brugmark in Stilbaai
As daar enigiemand met 'n oop hand is wat wil help, kan jy gerus vir Rebecca kontak by 063 765 0191.
Die Spiritual Dansers van Riversdal saam met Grant Riddles, uitvoerende burgemeester van Hessequa-munisipaliteit (gebukkend voorste ry).
Foto: Johan Victor
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'