HESSEQUA NUUS - Oortreders van die vlak 3 gewysigde inperkings kan geen genade verwag van plaaslike owerhede nie.
Wetstoepassingsinstansies in die Hessequa munisipale area sal saamwerk om uitvoering te gee aan die bepalings van die Covid-19 ramptoestand regulasies, soos gepubliseer op 29 Desember.
Hessequa-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, Grant Riddles, die munisipale bestuurder, Johan Jacobs, verskeie raadslede, asook lede van die bevelskader van die SAPD in die Hessequa munisipale area en senior munisipale personeel het vanoggend (31 Desember) ooreengekom om effektiewe samewerkingstrategieë wat ten doel het om die verspreiding van Covid-19 te bekamp.
Oujaarsaand
Die SAPD gaan bykomende personeel ontplooi om wetstoepassing te verseker. Munisipale wetstoepassers sal verskeie padblokkades hou om voldoening aan die munisipale verordeninge en Padverkeerswet te verseker.
“Oortreders word vriendelik gewaarsku dat 'n beleid van geen verdraagsaamheid (zero tolerance) gevolg sal word en dat streng teen oortreders opgetree sal word.
Die gesamentlike wetstoepassing inisiatief vra inwoners vir hul samewerking sodat dronkbestuur en oortredings van die regulasies voorkom kan word,” het Didi Budricks, kommunikasiebeampte vir die Hessequa-munisipaliteit gesê.
Aandklokreël
“Almal moet streng let op die aandklokreël en daarby hou. Dit is 'n strafbare oortreding om die aandklokreël te oortree,” het Budricks gesê.
Die enigste uitsonderinge geld vir noodsaaklike dienste-personeel, nooddienspersoneel en diegene wat om mediese redes of sekuriteitsnoodgevalle om hulp moet aanklop.
“Vakansiegangers wat huiswaarts keer moet hul ritte oordeelkundig beplan aangesien geen wetstoepassingsinstansie permitte kan uitreik vir diegene wat deurnag na hul bestemmings sou wou ry nie.”
Vuurwerke
Wetstoepassers en lede van die SAPD sal ook ontplooi word om mense wat vuurwerke afvuur vas te trek.
Hessequa-munisipaliteit se brand, redding en rampbestuursdienste sal personeel op strategiese plekke ontplooi om moontlike veld- en ander brande weens onwettige vuurwerke te voorkom.
“Die publiek se samewerking sal op prys gestel word om die onwettige afvuur van vuurwerke te vermy.”
Poging om Hessequa te beveilig
“Daar is ooreenstemming bereik oor die toepassing van die onderskeie mandate in die strewe om die Hessequa-streek sover moontlik te beveilig.
“Wetstoepassingsbeamptes sal munisipale verordeninge baie streng toepas, terwyl die SAPD en veiligheidsinstansies hul mandaat ten opsigte van die toepassing van die Covid-19 regulasies nougeset en met bykomende personeel sal uitvoer, “ het Budricks gesê.
Sy het namens al die betrokke instansies inwoners en besoekers gemaan dat die jongste regulasies dit 'n strafbare oortreding maak sou sommige van die regulasies nie nagekom word nie. “Onder meer is dit nou 'n strafbare oortreding sou enige individu nie 'n gesigmasker op die korrekte wyse in die openbaar dra nie.”
Volgens Budricks is die verskerpte regulasies wat tot en met 15 Januarie van krag is, is daarop gemik om die las op hospitale te verlig, die werkslas van mediese personeel meer draaglik te maak en om die snelle verspreiding van die koronavirus hok te slaan.
“Daar word op elke inwoner en besoeker in die Hessequa-munisipale area se samewerking staatgemaak om die reeds dalende tendens in aktiewe Covid-19 gevalle vol te hou, ter wille van elkeen se gesondheid en welstand.”
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'