GOURITSMOND NUUS - Die veldbrande wat Dinsdag 17 Desember langs die pad na die kusdorp gewoed het, het opnuut tot 'n kragonderbreking gelei.
Twee veldbrande het Dinsdagoggend by Schoemanshoek sowat 10 km vanaf Gouritsmond uitgebreek en weerskante van die pad gewoed. Volgens Herman Pieters, woordvoerder vir Garden Route-distriksmunisipaliteit (GRDM), het hul eie en Hessequa se brandweerpersoneel die vlamme onder beheer probeer bring voor 'n noodwestewind wat vir die namiddag voorspel is, begin waai.
Volgens Org Nieuwoudt, voorsitter van die Gourits-sambreelligaam, het dié brand 'n kragpaal aan die brand gesteek wat gelei het tot 'n kragonderbreking. Dit ná die krag Sondag 15 Desember 13 ure lank af was.
Die oorsaak van daardie onderbreking was klaarblyklik swak onderhoud wat daartoe gelei het dat 'n hoëspanningskakelaar vervang moes word. "Die gesloer om toestemming te kry om dit te vervang en weer aan te skakel het só baie tyd in beslag geneem."
Volgens hom het kabeldiefstal die afgelope drie, vier maande kwaai toegeneem. "Buiten die onderbrekings wat die verlies aan kabels veroorsaak, is daar ook gewone onderhoudswerk wat gedoen word wat ons van krag ontneem.
"Beurtkrag maak die situasie net nog erger."
Die kragonderbrekings lei tot groot verliese gedurende die vakansieseisoen. "Inwoners en veral sakeondernemings is radeloos. Die onderbrekings veroorsaak dat ons vrieskaste en yskaste af is en die kos wat ons vir toeriste aangekoop het, ontdooi.
"Die kragopwekkers kan nie alles aan die gang hou nie. Ons kan nie kaartmasjiene gebruik nie. Die gaste pak op en gaan huis toe. Ons ekonomie ly daaronder."
'Ons bring jou die nuutste Gouritsmond, Hessequa nuus'