Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - Waar anders as by die Stilbaai Craft Beer, Gin & Wine Expo sal jy wyn van 23 wynplase, boetiekbier van ses brouerye en 10 handgemaakte gin soorte onder een dak vind?
Dit is die derde keer dat die ekspo aangebied word en volgens die organiseerders was daar baie meer besoekers as verlede jaar. Fynproewers kon kies en keur waaraan hulle wou proe en wat om huis toe te neem. Van die heerlikste biltong, olyfprodukte en kaas was beskikbaar.
Plaaslike gin en wyn van Inverroche Gin Distillery, Baleia Wines and Olive oil en Jakkalsvlei Private Cellars was te proe en te koop. Verskillende olyfprodukte van Kleinbergskloof en Kransfontein, wat plaaslike produkte is, was 'n treffer.
Verteenwoordigers, wynmakers en selfs wynplaaseienaars het van sover as die Karoo, Robertson, Franschhoek en Durbanville gekom om hul wyn by die spoggeleentheid ten toon te stel.
Kyk 'n video hieronder:
Bier wat beïndruk het is Mountain Brewing Co. en Darling Brew. Die twee brouerye se bier smaak nie net uniek nie, maar die name van die bier is ook iets anders.
Adolf Botes en Johannie Vermeulen van Stilbaai Kelders wat die Stilbaai Craft Beer Gin & Wine Expo georganiseer het staan by burgermeester Grant Riddles (middel) tyden die ekspo.
Adolf Botes, organiseerder het gesê: "Ons probeer om die April-vakansiegangers te akkommodeer omdat daar soveel aktiwiteite in Desember plaasvind. Baie mense verkies dat dit in April aangebied word."
Taryn Daames, Elzette Nelson en Paulynne Baartman staan by reusekoker wat gebruik word om gin te stook.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'